Die vraag is gevra om te gesels oor vervoermiddels waarin daar gery is en die “coolste” een wat bestuur is…
In my lewe het ek al die voorreg gehad om met baie wat op pad, in die lug en op die water beweeg, te reis. En natuurlik het ek ook die skopskoetertjie, rolskaatse en kaskarretjie dinge gedoen. Hoe dan anders as mens met drie besige broers grootword?
Vlieg het ek met van groot tot klein gevlieg…. Airbus, menige Boeing, een of ander vorm van Jet, die weermag se Hercules en Dakota (in die winter ‘n sif) en ‘n groot weermag helikopter – ons was so tussen 15 lede op die vlug Matroosberg toe. Op die water was dit van kano, roeibootjies soos wat gebruik word vir kreeftrek teen die Weskus, ski-boot, plesierboot, snoekskuit en groot vissersbote. Ek moet nog op een van daardie massiewe passasiersbote vaar. Eendag. En eendag gaan ek nog met ‘n lugballon en ‘n sweeftuig opgaan. Ek het darem al perd gery en was vir ‘n wyle op ‘n kameel se rug, maar voor my bene te maklik gaan breek, wil ek nog volstruis ry.
Ek onthou ons treinryery. My oom was ‘n drywer in die goeie ou dae en het gereeld vir my ouma laat ry tussen Walvisbaai en Otjiwarongo. Ek is ‘n slag of wat saam. Dit was vir my vreeslik lekker. Ouma het my bo laat slaap en sy het altyd die lekkerste padkos ingepak. Daardie jare het die trein nog seelangs tussen Walvisbaai en Swakopmund geloop en op plekke was die spoor so naby aan die water dat dit vir my as kind gelyk het asof die branders met hoogwater onder die trein in spoel. Dit was net die Maandagoggendstorie wat ek nie van gehou het nie. My skoolklere was ingepak en ek is direk van die trein af skool toe gevat. Wie wil skool toe gaan as jou lyf nog die wieg van die naweek in hom het? Ek het eenkeer met die trein van Walvisbaai na Kaapstad gereis en die mooiste mooi wat ek in my lewe gesien het, was die Hexriviervallei uit die trein uit. Asemrowend. Treine is nie meer dieselfde nie en ons kinders sal seker nooit treinry vir vakansie nie. Dit is ‘n jammerte. Dit was net so anders om in die eetwa aan te sit terwyl die trein klikkete-klak wieg oor die spore en die landskap rustig verbyskuif. Die klank van die rangeerterrein op De Aar sal my altyd bybly en in die klank van die geknars van die gruis onder die kondukteur se skoene in die stilte van die na-nag bly ‘n nostalgie wat mens moeilik beskryf.
Ek het as kleuter ‘n driewielfiets gehad en toe ek hoërskool toe is en ons verder weg van die skool getrek het, het my pa vir my ‘n fiets gekoop. So dikwiel fiets. Vir Walvisbaai se sand. Ons het so bietjie meer as twee kilometer van die skool gewoon en daar was een verkeersirkel en een verkeerslig tussen ons huis en die skool. My daaglikse doelwit was om die afstand skool toe loshande af te lê en ek het dit gereeld reggekry. ’n Hond het my een middag gestorm en van my fiets af gebyt en dit was die enigste keer wat ek geval het. Ek was meer beduiweld oor die skeur in my splinternuwe jeans as oor die byt of die Tetanus inspuiting wat gevolg het. Ons klas het in St 7 (Graad 9) besluit om met die fietse oor te ry na die buurdorp, daar oor te bly in ‘n vakansiehuis tot die Sondag en dan weer terug te ry. Ons was nie veel wat uiteindelik die tog per fiets aangepak het nie, maar ek was voor in die koor en het met daardie einste dikwielfiets die 34km daarheen en weer terug met gemak afgelê. Die baie koffie wat ons gedrink het met ons “deurnag” het veroorsaak dat ek ‘n ongestelde maag gehad het en ek het die Sondag behoorlik oopgelê op die pad huis toe. Nie om voor te ry nie, maar om by die huis en by verligting uit te kom.
Geen bult was daardie dag vir my hoog of moeilik nie. Ek was egter nooit spyt dat ek dit met die fiets gedoen het en nie, soos baie van die ander, die bussie gevat het nie. So as jy my vra of ek die pad tussen Walvisbaai en Swakopmund ken, dan kan ek jou beslis ja antwoord. Min het verander tussen toe en nou.
Ek het lang jare terug dit as passasier op ‘n motorfiets gewaag. Ek was nog nie agtien nie en het so bietjie gesukkel met die leun in die draaie. So het ek my houtskoen se hak verloor … ek was simpel genoeg om my voet uit te steek… my beskermengel het daardie dag oortyd gewerk. Die pad tussen Windhoek en Okahandja (70km) het vrek lank gevoel want ek het ‘n kortbroek aangehad en my arms was kaal en dit het begin reën. Teen die spoed waarteen ons gery het, het die reën soos hael gevoel en al was dit die dag vreeslik warm, het dit gevoel asof ek gaan vasvries in die posisie waarin ek gesit het (lees klou). Die feit dat ek vroeër die dag my been teen die warm uitlaatpyp gebrand het, het glad nie gehelp nie. Dit was my eerste en my laaste en ek het nog nooit weer ‘n behoefte gehad nie.

Ek het twee keer aan die jaarlikse vlotteresies op Walvisbaai deelgeneem en dit was vet pret. Ons moes ons eie vlotte bou en die goed moes ons van die een kant van die strandmeer na die ander kant kry sonder om te breek of te sink. Ons het dit altwee keer oorleef, maar het die een keer met die stroom te doen gekry en daar was ‘n paar benoude oomblikke. Ek het gekrap en ‘n ou foto gekry van die jaar wat ons tema iets uit te waai gehad het met Chinese…. Die ander keer was ons tema “Love Is”, maar daarvan is daar nêrens foto’s nie. Gelukkig nie. Ons het daardie dag vrek koud gekry tydens die tema-beoordeling want ons klere was klein bietjie min.
Op pad…. menige motor en Smiley, my pa se Landie… dit was ‘n regte skudskip, maar altyd vet pret. Duine ry in my neef se viertrekvoertuig was een van die opwindendse dinge wat ek aangevang het in die laaste paar jaar… daai afry teen die steil kant van die duin wanneer dit voel asof die voertuig enige tyd neus in die sand kan steek en kan rol, laat mens se maag draai op ‘n anderste lekker manier. Of ek dit weer sal doen, weet ek nie. En of ek weer sal duine ry met ‘n stuk gepoleerde “cardboard”, met ‘n tou om dit rond te trek aan die voorkant, weet ek ook nie. Ek sidder as ek nou dink hoe gevaarlik dit was en hoe maklik ek my nek kon breek. Ek sal nooit weer op ‘n binneband ry wat agter ‘n motor gesleep word op die soom van die water op die strand nie… die een keer wat ek dit gedoen het, is ek afgegooi toe die band in die droeë sand gebyt het en het ek vir jare las gehad van die gevolglike gebreekte stuitjie. Ek weet dat ek lig afgekom het, want ek het gat oor kop gegaan en kon my nek in plaas van my stuitjie gebreek het. Wat egter die ergste van alles gekneus was, was my ego. Die rowe aan my gesig het my vir dae aan die insident herinner. Dit en die feit dat ek op ‘n tjoepie moes sit omdat ek nie anders kon nie.
Ons is almal bekend met die lied “Ag man, dis lekker in die Army….” waarin daar gesing word van die Ratel op Otavi….
Ek het my militêre bestuurslisensie verwerf na ses weke van bestuur-en-onderhoud opleiding. Die laaste week daarvan was gedeeltelik deurgebring op Touwsrivier se heg-en-steg baan. Dit was vet pret. Ek het Samil 20 (links agter), Samil 50 vrag (middel agter) en Samil 50 waterdraer (middel voor) bestuur. Die opwindendste egter, was die Kwêvoël (regs voor bo en op die foto onder). Ek sit juis die foto op om ‘n idee te gee van die baan waarop ons gewerk het alhoewel dit nie die waterhindernisse en die nou oorgange wys nie. Ek was bo-op die koppie waar ons drywers geruil het toe ek die foto geneem het. Om daardie Kwêvoël teen die koppie uit te kry was nogal nie so maklik soos dit lyk nie. Veral nie as mens nie eens die ding sonder jou mede-bestuurder se hulp in eerste of tweede te kry nie. Ek kan nie mooi onthou nie, maar ek dink dit het twaalf of veerten ratte wat in so visgraatformasie sit. Ek moes regop staan en met altwee hande die hefboom beetkry om hom in 1ste in te stoei. Ek het hom net een keer deur die baan gevat en toe maar gelos vir die manne.
Ek het hom nie gery om lisensie te kry nie; net vir die pret daarvan. Een van my kollegas het ‘n Samil 20 op sy sy neergesit by ‘n nou tydelike bruggie (wat einlik net behels het dat ‘n pyp in die stroom gesit is en met sand en klippe vasgepak was) en ons het hom regop en uitgetrek met die Kwêvoël en gou was alles reg.
Ek wonder nou of mens die kabelkarretjie (die ou krat en die nuwe model) en Ratanga Junction se Cobra en ander ritte en Cool Runnings se Toboggan mag bytel op die vraag wat gevra is oor die aantal vervoermiddels wat gery is….. vat Dorings-en-Soms-Rose se uitnodiging en vertel self bietjie…
Vir Roer wat die naweek aan die Argus deelneem… sterkte Girl! Ry hom bloots en maak hom mak!
Kommentaar