05
Jul
09

Sondagaand

Nog ‘n week is verby.  Ek was sonder ‘n rekenaar want die Engelskind het aan myne gewerk om dit beter en vinniger te maak en dit het bietjie langer gevat as wat verwag is. Ek hou gewoonlik verniet asem op, want dit lyk my die man weet beslis wat hy doen.  So van hom gepraat, hy het weer uitstekend gedoen in die eksamen!

Ek is besig om stelselmatig uit te pak, weg te gooi en reg te pak.  Vanaand voel dit of my beenspiere gekrimp het elke keer as ek opstaan na ‘n stukkie sit. Dit is van op en af met die kortleer om bo in die kaste uit te kom.

Ek is een van daardie mense wat sukkel om goed weg te gooi – veral goed wat deur my ma gemaak is. Ek het die naweek besluit dit is tyd om badkamergordyntjies van meer as twintig jaar terug uit te gooi. Onder andere. Maar weer het ek ‘n paar items met kerspitborduurwerk teruggehou vir die nostalgie daarvan eerder as enigiets anders. Net omdat Ma dit met soveel sorg en liefde vir my gemaak het. Dit is vergeel van ouderdom, maar dit bly spesiaal. Ek het myself beperk tot een boksie vol hougoed en die res uitgegooi. Die wa raak al hoe ligter. Volgende naweek sal ek verder werk daaraan.

Ek het die week nogal baie aan my oorlede ma gedink. Moeder natuur herinner my aan haar. Oral staan Aalwyne in die blom en ‘n hele paar Strelitzias spog met pragtige blomme. Dit en Aronskelk sal my altyd aan my ma laat dink. Ek wonder soms wat sou sy sê as sy nou hier kon wees. Ek het die loopbaanskuif gemaak waarvoor sy my aangemoedig het. En dit gaan deesdae baie goed. Ek verlang sterk, maar die groot hartseer is oor. Tyd maak dit tog beter.

Ek weet dat winter amptelik hier is as my Frangipani sy blare verwoed begin afgooi. Ek weet ook dat die pad terug somer toe nie te lank sal wees nie. Dit voel altyd vir my asof die Frangipani eintlik bietjie laat is met afgooi en nuwe blare kry. Dit is dan net ‘n paar weke weg van blomtyd af!

My TV was amper nie aan die naweek nie. Ek het in die verbyloop gehoor dat die Bokke dit nie gemaak het om die Lions sonder oorwinning huistoe te stuur nie. En ek het gehoor dat die Wimbledon finaal ‘n titaniese stryd was. Ek het nie een van die twee gekyk nie. Het ek veel gemis? Ek dink nie so nie.

Iewers het ek gesien dat daar iets soos 17,500 kaartjies uitgegee word vir Michael Jackson se roudiens terwyl 1.6 miljoen mense navraag gedoen het. Gits. My dogter se swaer werk by Musica en hulle het gister ‘n besending van sy CD’s ingekry en dit het binne enkele ure uitverkoop. Ek weet daar is mense wat langspeelplate versamel. Sal ek die Thriller langspeelplaat wat in die huis is, nog mooi in sy plastiese slopie, opveil om te sien net hoe gek die gekkes is? Ek reken dit sal ‘n goeie prys haal. Ek vir een sal nie die plaat mis nie.

Die week wat kom hou belofte in. Sy eie uitdagings ook, maar ek verkies om te fokus op dit wat positief is. Dit is ‘n maak of breek week. Ek kan nie wag om te weet of dit wat beplan is, wel realiseer nie. Geduld, o gee my net geduld! Ek sal wel ‘n baie groot lawaai hier kom maak as die  777 val!

Ek het die afgelope week nuus gekry waarop ek vir ‘n ruk lank gehoop het – ek word Ouma!  So teen einde Februarie of vroeg in Maart gaan hierdie ouma se Nartjiepit mensie word. Ek kan nie wag nie en moet net keer om te begin koop.  Was nogal Vrydagaand in by Naartjie…. maar ek dink my Nartjiepit sal maar ‘n Ackermans Baby moet wees – daardie goed is pragtig, maar die pryse is belaglik vir items wat net ‘n maand of drie gedra sal word.

So van nostalgie gepraat, ek groet met ‘n ou foto van myself waar ek reg was vir my Vasbyt… die sak is darem ligter gemaak na die foto… Anderdag sit ek een op van my laaste dag in uniform.  Dit was April die jaar 10 jaar wat ek uit die mag is.

Vasbyt

29
Jun
09

Deur die Kruispad

Vir jare al het ek op die horison ‘n kruispad gesien en het ek lankal geweet watter rigting ek sal moet inslaan. Ek het my oog nie op die horison gehou nie en afgedwaal, uitgestel, onnodige tyd vermors en so het te veel dae van my lewe verlore gegaan.  Die laaste paar weke het ek doodstil geraak hier Op die Seepkissie terwyl ek gewerk het aan ‘n mank wa se wiele sodat ek die wa deur die laaste drif kon sleep en toe het ek die kruispad storm geloop.

Die eerste treë op die nuwe pad lê vol klippe en ek dit is maar ‘n gesukkel om spoed op te tel. Ek weet egter as die tolgeld eers betaal is, gaan die wa se wiele begin sing. Verby die eerste struikelblokke sien ek blink dae en ‘n pad wat algaande meer gelyk raak. Ek is darem oopkop genoeg om ook te besef dat daar menige struikrower skuil langs daardie pad en dat ek altyd op my hoede sal moet wees om nie blindelings in enige strikke te trap nie.

Snaaks, toe ek uiteindelik met my wa met die beter wiele voor die wegwyser staan en my besluit beslis aangekondig het, het ek skielik nuwe bloed in my are voel bruis. Dit wys; mense wat my ken sien dit en waar ek voorheen gevra is of ek siek is, word ek nou gevra of ek verlief is. Verlief wees is die laaste ding op my agenda, maar as ek dit so lyk, dan beteken dit een ding – die pad na my ou self is toe nie so lank as wat ek gedink het nie.

So ja, ek is terug en gaan my Seepkissie bietjie afstof en weer ‘n slag saamkuier en saamgesels. Daar is nog baie lapwerk aan die mank wa en dit gaan tyd vat, maar die wiele rol – glad.

05
May
09

Tyd om op te vang

Kyk, ek kuier hopeloos te min hier rond! Ek stap gereeld verby Die Seepkissie en sien hoe die arme ding stof vergader, maar vir omskop sien ek nie kans nie… dit sal wees soos deel van my uitvee die dag as ek tot die stap oorgaan. Dan klik ek maar net die tong en skud die kop en reken ek sal moet tyd maak. Ek het geweet ek gaan besig wees in my nuwe beroep en as ek nou eers begin swot, dan gaan ek maar moet wegbly uit die voetpaadjies van die blogsfeer anders gaan ek myself vasknoop.  Tot dan loer ek maar so nou en dan in…

Ek het gestem. En ek kan nie kla oor die uitslag van die stemmery nie – dit is eintlik beter as wat ek verwag het. Dit kon erger gewees het. Dit was vreedsaam waar ek was en ek het vry en sonder druk van enige soort my stem uitgebring. Ek dink net dat as jy nie ‘n stempeltjie in jou ID boekie het die volgende dag nie, moet jy maar ‘n dag se verlof insit. Die ekonomie se brieke word aangedraai sodat jy kan gaan stem. Van jou medeburgers maak finansiële opofferings sodat jy gemaklik en tydsaam iewers in ‘n ry kan inval om jou stem uit te bring. As jy gekies het om nie te kies nie, dan moet jy maar voorregte soos ‘n pasella afdag inboet. Tog is ek bly dat die stembusse so besig was en dat soveel geregistreerde kiesers wel gaan stem het. As almal nou net wil registreer en volgende keer weer in masssas gaan stem, gaan ons demokrasie en verteenwoordiging wel ‘n behoorlike kans gee.

En toe val ek vir die Idols grap. En ek bring ‘n paar stemme uit. Stupid. SMS so ewe om die outjie te ondersteun en nogal vroeg om darem voorsiening te maak vir ‘n stelsel wat moontlik oorlaai kan raak.  En raai, vyf van my stemme is na die tyd afgelewer.  Op die telefoonlyn kon ons (gelukkig?) nie deurkom nie. En so lees ek hier en daar en oral dat daar nog mense is wat kla dat hulle stemme nie deurgegaan het nie. Nou wonder ek so bietjie stilletjies… ons weet tog almal hoe werk die stemmery… die operateur kry sy stukkie en die kompetisie se organiseerders vat ‘n vet hap en voer hulle sakke uit.  Ek vermoed R1 van die R2 beland in die organiseerders se kissie. Ek wonder nou of Alexander Forbes vir ons kan bevestig hoeveel stemme na die tyd afgelewer is wat nie kon tel vir die kompetisie nie? Voor julle tamaties gooi, ek weet die uitslag kan nie nou verander word nie – water onder die brug is water onder die brug. Ek wil net sien dat my R10 wat ek aan stemme spandeer het wat nie getel het nie omdat die stelsel buite werking was/nie die druk kon hanteer nie/gesaboteur was of wat ookal, dan nie in die kissie van die kompetisiebase eindig nie, maar na ‘n liefdadigheidsorganisasie gaan. Net om te wys daar is nie naarheid nie, kan die nr 1 en nr 2 saam besluit wie die geld moet kry. Volgende jaar sal ek seker weer kyk, maar ek sal maar ‘n tien randjie by die gidshondblikkie gaan ingooi.

Iedergeval, die dag wat ek R900 betaal vir ‘n Springbok replikatrui moet my kop gelees word. Ek gaan die goed probeer verkoop, want dit is wat ek deeltyds doen, maar ek sal sekerlik formeel my enkele suksesse kan aankonding. Weet die klomp wat die trui teen daardie prys versprei dat ons land en ons mense se beursies kwaai gekrimp het? Ek moet erken dat ek deesdae rondkyk om te sien of iets soos Tupperware nie dalk maar die beter opsie is vir ‘n deeltydse inkomste nie. Rugby het laas goed betaal toe die Stormers darem nog bietjie meer as Suutjiestrap was. Wat ‘n teleurstellende seisoen!

Nou ja, ek moet nog weer ‘n paar kwotasies aanmekaarslaan en een en ander regkry vir my vroegoggenduitstappie stad toe. Ek ys as ek dink hoe die parkering môre weer my sak gaan ruk… maar solank die besigheid kom, mag ek seker nie kla nie. Dit gaan maar rof daar buite… maar dit bly lekker…

18
Apr
09

Daar’s klaar gedans….

Nou is dit al die pad skouer aan die wiel en afdraende pad…

Dankie tog. Daar is net een ding wat erger is as ‘n dogter in matriek en dit is ‘n seun in matriek so net voor die matriekafskeid. My ou het gestres oor twintigduisend dinge wat volgens hom verkeerd kon gaan en die stres oorgeplaas na ma toe. Ek was snaarstyf opgewen en aan die einde van die dag was alles heel gaaf. Die meisie was in haar noppies met haar blom en baie tevrede dat die Jaguar (1976) se kleur nogal ingeskakel het by die uitrustings.

Daar is nie afterparty toe gegaan nie. Die man is al rustig aan die slaap. My spiere begin nou eers behoorlik ontknoop.

Ek is bly die skool se afskeid is so vroeg in die jaar oor en verby. Nou kan daar gefokus word op die eksamens wat voorlê en die obesessie oor motors, haarstyle, uitrustings en metgeselle is uit die pad.  

Ek is ‘n baie trotse ma….

dsc08211

 

10
Apr
09

Alweer aan’t speel met Photoshop

Ek speel weer met Photoshop – dit is mos langnaweek.  llana se vriendin het ‘n fantastiese foto geneem van die bruid.  Die beligting is egter bietjie donker en die agtergrond baie besig. Ek het met die foto gespeel en is heel ingenome met die resultaat sover.  Ek moet nog bietjie toor aan die rooi hand en dan is die groot toets die drukslag.  Dit is lekker om weer ‘n slag regtig tyd te hê vir my gunsteling tydverdryf.  Ek kom net agter dat ek al meer my bril hiervoor nodig het… 

ilanasep06

10
Apr
09

Stillerig…

Ek is maar bietjie stillerig. Een, ek is te besig met werk; as ek uiteindelik agter die rekenaar inskuif vir opvang, lees ek die blogs wat ek volg deur readomatic tot ek voel hoe my oë begin toeval en dan duik ek deur ‘n watertjie tot by my kussing. Twee, ek het niks om te sê wat nie klaar gesê is nie. My drafts lê net so ongepubliseer omdat dit oor sake van die tyd is wat reeds van alle kante bekyk is nie meer relevant is nie.  So, ons gaan stem op stemdag en ons het ‘n idee wat die uitslag sal wees net soos die skrif lankal teen die muur was oor die Z u m a aangeleentheid. Ou nuus. Sat gesels. Drie, ek speel op Sanlam iTrade met virtuele aandeleverhandeling en ek verwyl nogal baie tyd om my oog op die mark te hou in enige spaar minute wat ek het.

Ek is een van daardie supergebruikers van sagteware en allerhande applikasies. Amper soos mans met hulle “gadgets”. Uit die aard van my werk is tydsbestuur en ‘n dagboek my twee beste maats. Nou moet ek bieg oor die dagboekstorie…. ek skryf nie altyd my afsprake in die tradisionele een neer nie. Want sien, terwyl ek op die telefoon besig is om die afspraak te maak, is ek lankal besig om in Outlook (die werk se voorskrif) die afspraak te skeduleer en die ander persoon in te sluit vir ‘n e-pos uitnodiging …. soos dit ‘n goeie georganiseerde gebruiker sal betaam…. en dan word my aandag afgetrek met iets anders en ek vergeet om die afspraak aan te teken in die papierweergawe wat soos gewoonlik nog in my aktetas lê en my rekenaar by die werk en my rekenaar by die huis staan los van mekaar. Hier kom wonderlike Google in. Goed, ek is seker daar is sekerlik ander produkte en applikasies wat in ander se oë wonderlik en cool en alles is.  Ek is ‘n Google junkie.

Ek gebruik ‘n Gmail adres vir my privaatkorrespondensie. En ek gebruik Google se Kalender. Dit is wat my aanbetref my saving grace. Ek gebruik die sinkroniseerder wat my werkskalender met my Google kalender sinkroniseer en dan gebruik ek Google se kalender om my te herinner van my afsprake en notas. Sien, mens kan jou Google kalender stel om daagliks vroegoggend vir jou die dag se agenda per e-pos te stuur en die kalender kan gestel word om vir jou SMS’e te stuur – gratis (ek weet, ek gebruik dit al maande). Ek het dit as standaard gestel dat ek twee SMS’e ontvang – een 12 ure voor die afspraak en een 1 uur voor die afspraak. Dit kan natuurlik per afspraak verander word. Daardie een wat 1 uur voor die volgende afspraak is, het my bas al gered omdat die sagte biep van my selfoon duidelike bevestiging is dat ek moet klaarmaak waarmee ek besig is en in die pad moet val vir die volgende afspraak. Die tipiese SMS lees “Reminder: XXXXX @ Fri Apr 10 09:30 – 10:00 in XXXXXX.  Ek skeduleer my belangrikste take ook sommer as “afsprake” voor kantoorure sodat ek daarvoor ook SMS’e kan kry.  

Ek kan natuurlik my selfoon se kalender gebruik, maar ek soek altyd die vinnigste en korste pad om ‘n ding gedoen te kry.  Ek hou van kontrole en ek is ‘n voorstander van papierloos werk.  Ek is ook maar bietjie vergeetagtig… die selfoon se kabel is maar net nooit in my tas as hy daar moet wees nie en ek verpes die trippeltik op ‘n sel.

Sinkronisasies tussen my Outlook- en Google kalenders vind outomaties elk 60 minute plaas  en as ek saans agter my rekenaar by die huis inskuif, sinkroniseer ek weer tussen my Google kalender en Outlook op my tuisrekenaar. Dit is dan wanneer ek tog maar die papierdagboek nader sleep om seker te maak alles is ingeskryf. Want die werk wil dit hê.  Ek wens ek kon ook vir daardie een net die “sync” knoppie druk en ‘n paar sekondes later is als gedupliseer.  

Nou wil ek nog net daardie oulike gadget koop wat mens in jou motor gebruik om jou ritte te monitor… ek het gesien hoe vinnig en maklik ‘n kollega, wat die gadget gebruik, met sy ritboek klaarspeel vir Jan Taks…. As ek dit het, dan is ek heeltamaal “sorted”. ;-) Hoop die kinders lees hier voor ek weer verjaar….

16
Mar
09

Toe die Swakop die see in is….

Ek het ‘n paar fantastiese foto’s in ‘n PPT lêer ontvang wat ek nie  so in sy oorspronklike formaat hier kan deel nie, dus het ek dit “uitmekaar” gehaal om dit hier te wys. Ek het die oorspronklike kommentaar van die fotograaf/skrywer by elke foto gesit. Ek kan nie by name erkenning gee aan die oorsprong nie, maar wie jy ookal is – vir hierdie Namibkind het jy ‘n venster na die heimat oopgehou vandag… dankie!

Die Swakoprivier het vir die eerste keer in 9 jaar afgekom op 6 Maart 2009 en al wat leef en beef was daar om dit te sien en te beleef.  Ek het oom Des se stukkie gelees en die saamtrek by die rivier, die gespeel in die water en die vleisbraaiery op die oewer is so eie aan die mense van die Namibkus.. my mense.

Ek onthou goed hoe ons na die rivier gaan kyk het toe ek nog in die laerskool was en dat hy daardie dag in volle vloed was.  Die donderende gedreun van daardie rivier sal my altyd bybly en die mengsel van opwinding en vrees van daardie dag sal ek nooit vergeet nie.

Ongebekende fotograaf…  mooi gemaak…  en Jaco, dankie vir die aanstuur! 

07
Mar
09

The Rides of My Life

Die vraag is gevra om te gesels oor vervoermiddels waarin daar gery is en die “coolste” een wat bestuur is…

In my lewe het ek al die voorreg gehad om met baie wat op pad, in die lug en op die water beweeg, te reis.  En natuurlik het ek ook die skopskoetertjie, rolskaatse en kaskarretjie dinge gedoen.  Hoe dan anders as mens met drie besige broers grootword?  

Vlieg het ek met van groot tot klein gevlieg…. Airbus, menige Boeing, een of ander vorm van Jet, die weermag se Hercules en Dakota (in die winter ‘n sif) en ‘n groot weermag helikopter – ons was so tussen 15 lede op die vlug Matroosberg toe.  Op die water was dit van kano, roeibootjies soos wat gebruik word vir kreeftrek teen die Weskus, ski-boot, plesierboot, snoekskuit en groot vissersbote.  Ek moet nog op een van daardie massiewe passasiersbote vaar.  Eendag.  En eendag gaan ek nog met ‘n lugballon en ‘n sweeftuig opgaan. Ek het darem al perd gery en was vir ‘n wyle op ‘n kameel se rug, maar voor my bene te maklik gaan breek, wil ek nog volstruis ry. 

Ek onthou ons treinryery. My oom was ‘n drywer in die goeie ou dae en het gereeld vir my ouma laat ry tussen Walvisbaai en Otjiwarongo. Ek is ‘n slag of wat saam. Dit was vir my vreeslik lekker. Ouma het my bo laat slaap en sy het altyd die lekkerste padkos ingepak. Daardie jare het die trein nog seelangs tussen Walvisbaai en Swakopmund geloop en op plekke was die spoor so naby aan die water dat dit vir my as kind gelyk het asof die branders met hoogwater onder die trein in spoel. Dit was net die Maandagoggendstorie wat ek nie van gehou het nie. My skoolklere was ingepak en ek is direk van die trein af skool toe gevat. Wie wil skool toe gaan as jou lyf nog die wieg van die naweek in hom het? Ek het eenkeer met die trein van Walvisbaai na Kaapstad gereis en die mooiste mooi wat ek in my lewe gesien het, was die Hexriviervallei uit die trein uit.  Asemrowend. Treine is nie meer dieselfde nie en ons kinders sal seker nooit treinry vir vakansie nie. Dit is ‘n jammerte. Dit was net so anders om in die eetwa aan te sit terwyl die trein klikkete-klak wieg oor die spore en die landskap rustig verbyskuif. Die klank van die rangeerterrein op De Aar sal my altyd bybly en in die klank van die geknars van die gruis onder die kondukteur se skoene in die stilte van die na-nag bly ‘n nostalgie wat mens moeilik beskryf.

Ek het as kleuter ‘n driewielfiets gehad en toe ek hoërskool toe is en ons verder weg van die skool getrek het, het my pa vir my ‘n fiets gekoop. So dikwiel fiets. Vir Walvisbaai se sand. Ons het so bietjie meer as twee kilometer van die skool gewoon en daar was een verkeersirkel en een verkeerslig tussen ons huis en die skool.  My daaglikse doelwit was om die afstand skool toe loshande af te lê en ek het dit gereeld reggekry.  ’n Hond het my een middag gestorm en van my fiets af gebyt en dit was die enigste keer wat ek geval het. Ek was meer beduiweld oor die skeur in my splinternuwe jeans as oor die byt of die Tetanus inspuiting wat gevolg het. Ons klas het in St 7 (Graad 9) besluit om met die fietse oor te ry na die buurdorp, daar oor te bly in ‘n vakansiehuis tot die Sondag en dan weer terug te ry. Ons was nie veel wat uiteindelik die tog per fiets aangepak het nie, maar ek was voor in die koor en het met daardie einste dikwielfiets die 34km daarheen en weer terug met gemak afgelê.  Die baie koffie wat ons gedrink het met ons “deurnag” het veroorsaak dat ek ‘n ongestelde maag gehad het en ek het die Sondag behoorlik oopgelê op die pad huis toe. Nie om voor te ry nie, maar om by die huis en by verligting uit te kom. yh9r7235Geen bult was daardie dag vir my hoog of moeilik nie. Ek was egter nooit spyt dat ek dit met die fiets gedoen het en nie, soos baie van die ander, die bussie gevat het nie. So as jy my vra of ek die pad tussen Walvisbaai en Swakopmund ken, dan kan ek jou beslis ja antwoord.  Min het verander tussen toe en nou.

Ek het lang jare terug dit as passasier op ‘n motorfiets gewaag.  Ek was nog nie agtien nie en het so bietjie gesukkel met die leun in die draaie.  So het ek  my houtskoen se hak verloor … ek was simpel genoeg om my voet uit te steek… my beskermengel het daardie dag oortyd gewerk.  Die pad tussen Windhoek en Okahandja (70km) het vrek lank gevoel want ek het ‘n kortbroek aangehad en my arms was kaal en dit het begin reën. Teen die spoed waarteen ons gery het, het die reën soos hael gevoel en al was dit die dag vreeslik warm, het dit gevoel asof ek gaan vasvries in die posisie waarin ek gesit het (lees klou). Die feit dat ek vroeër die dag my been teen die warm uitlaatpyp gebrand het, het glad nie gehelp nie.  Dit was my eerste en my laaste en ek het nog nooit weer ‘n behoefte gehad nie.

vlotteresies

Ek het twee keer aan die jaarlikse vlotteresies op Walvisbaai deelgeneem en dit was vet pret.  Ons moes ons eie vlotte bou en die goed moes ons van die een kant van die strandmeer na die ander kant kry sonder om te breek of te sink.  Ons het dit altwee keer oorleef, maar het die een keer met die stroom te doen gekry en daar was ‘n paar benoude oomblikke.  Ek het gekrap en ‘n ou foto gekry van die jaar wat ons tema iets uit te waai gehad het met Chinese…. Die ander keer was ons tema “Love Is”, maar daarvan is daar nêrens foto’s nie.   Gelukkig nie.  Ons het daardie dag vrek koud gekry tydens die tema-beoordeling want ons klere was klein bietjie min.

Op pad…. menige motor en Smiley, my pa se Landie… dit was ‘n regte skudskip, maar altyd vet pret. Duine ry in my neef se viertrekvoertuig was een van die opwindendse dinge wat ek aangevang het in die laaste paar jaar… daai afry teen die steil kant van die duin wanneer dit voel asof die voertuig enige tyd neus in die sand kan steek en kan rol, laat mens se maag draai op ‘n anderste lekker manier.  Of ek dit weer sal doen, weet ek nie.  En of ek weer sal duine ry met ‘n stuk gepoleerde “cardboard”, met ‘n tou om dit rond te trek aan die voorkant, weet ek ook nie. Ek sidder as ek nou dink hoe gevaarlik dit was en hoe maklik ek my nek kon breek. Ek sal nooit weer op ‘n binneband ry wat agter ‘n motor gesleep word op die soom van die water op die strand nie… die een keer wat ek dit gedoen het, is ek afgegooi toe die band in die droeë sand gebyt het en het ek vir jare las gehad van die gevolglike gebreekte stuitjie. Ek weet dat ek lig afgekom het, want ek het gat oor kop gegaan en kon my nek in plaas van my stuitjie gebreek het. Wat egter die ergste van alles gekneus was, was my ego. Die rowe aan my gesig het my vir dae aan die insident herinner.  Dit en die feit dat ek op ‘n tjoepie moes sit omdat ek nie anders kon nie.

touwsOns is almal bekend met die lied “Ag man, dis lekker in die Army….”  waarin daar gesing word van die Ratel op Otavi….  

Ek het my militêre bestuurslisensie verwerf na ses weke van bestuur-en-onderhoud opleiding. Die laaste week daarvan was gedeeltelik deurgebring op Touwsrivier se heg-en-steg baan. Dit was vet pret. Ek het Samil 20 (links agter), Samil 50 vrag (middel agter) en Samil 50 waterdraer (middel voor) bestuur.  Die opwindendste egter, was die Kwêvoël (regs voor bo en op die foto onder).  Ek sit juis die foto op om ‘n idee te gee van die baan waarop ons gewerk het alhoewel dit nie die waterhindernisse en die nou oorgange wys nie. Ek was bo-op die koppie waar ons drywers geruil het toe ek die foto geneem het.  Om daardie Kwêvoël teen die koppie uit te kry was nogal nie so maklik soos dit lyk nie. Veral nie as mens nie eens die ding sonder jou mede-bestuurder se hulp in eerste of tweede te kry nie. Ek kan nie mooi onthou nie, maar ek dink dit het twaalf of veerten ratte wat in so visgraatformasie sit. Ek moes regop staan en met altwee hande die hefboom beetkry om hom in 1ste in te stoei. Ek het hom net een keer deur die baan gevat en toe maar gelos vir die manne. kweEk het hom nie gery om lisensie te kry nie; net vir die pret daarvan. Een van my kollegas het ‘n Samil 20 op sy sy neergesit by ‘n nou tydelike bruggie (wat einlik net behels het dat ‘n pyp in die stroom gesit is en met sand en klippe vasgepak was) en ons het hom regop en uitgetrek met die Kwêvoël en gou was alles reg. 

Ek wonder nou of mens die kabelkarretjie (die ou krat en die nuwe model) en Ratanga Junction se Cobra en ander ritte en Cool Runnings se Toboggan mag bytel op die vraag wat gevra is oor die aantal vervoermiddels wat gery is….. vat Dorings-en-Soms-Rose se uitnodiging en vertel self bietjie…

Vir Roer wat die naweek aan die Argus deelneem… sterkte Girl!  Ry hom bloots en maak hom mak!  

05
Mar
09

DRINKING MAN’S GUIDE TO THE WORLD ECONOMIC CRISIS

beer-festHeidi is the proprietor of a bar in Berlin. In order to increase sales she decides to allow her loyal customers – most of whom are unemployed alcoholics – to drink now but pay later. She keeps track of the drinks consumed on a ledger (thereby granting the customers loans).

Word gets around and as a result increasing numbers of customers flood Into Heidi’s bar.

Taking advantage of her customers’ freedom from immediate payment constraints, Heidi increases her prices for wine and beer, the most-consumed beverages. Her sales volume increases massively.

A young and dynamic customer service consultant at the local bank recognizes these customer debts as valuable future assets and increases Heidi’s borrowing limit.

He sees no reason for undue concern since he has the debts of the alcoholics as collateral.

At the bank’s corporate headquarters, expert bankers transform these customer assets into DRINKBONDS, ALKBONDS and PUKEBONDS. These securities are then traded on markets worldwide. No one really understands what these abbreviations mean and how the securities are guaranteed.

Nevertheless, as their prices continuously climb, the securities become top-selling items.

One day, although the prices are still climbing, a risk manager (subsequently of course fired due his negativity) of the bank decides that slowly the time has come to demand payment of the debts incurred by the drinkers at Heidi’s bar.

However they cannot pay back the debts.

Heidi cannot fulfil her loan obligations and claims bankruptcy.

the_financial_crisis_wallpaper_world_financial_crisis_013917_DRINKBOND and ALKBOND drop in price by 95 % while PUKEBOND performs better, stabilizing in price after dropping by 80 %.

The suppliers of Heidi’s bar, having granted her generous payment due dates and having invested in the securities are faced with a new situation.

Her wine supplier claims bankruptcy, her beer supplier is taken over by a competitor.

The bank is saved by the Government following dramatic round-the-clock consultations by leaders from the governing political parties.

The funds required for this purpose are obtained by a tax levied against the non-drinkers.

Finally an explanation I understand . . .

(with recognition to Theo Marais and whoever might be the original author)

26
Feb
09

Wat sien jy?

 

dsc08001Met die baie brande in die Kaap het ons nou al vreemde verskynsel te sien gehad.   Ek het nie ons rooi sonsopkoms afgeneem nie, want ek was laat.  

Ek het wel die vreemde wolkformasie raakgesien toe ek in my kombuis besig was en het vir Kevin die kamera in die hand gedruk om vir my foto’s te neem. Iemand vir wie ek die foto gestuur het se kommentaar was dat dit lyk asof die wolk iets wil skep.  Dit lyk nogal soos ‘n hand met die duim bolangs en die vingers wat ‘n bakkie vorm.  Wat sien jy?




Sew Pretty Homestyle

Kaapstad, Suid-Afrika

Kalender

July 2009
M T W T F S S
« Jun    
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
2728293031  

Argiewe

MY GUNSTELINGE

RSS Ding se Dinge

RSS Oopkop Anja

RSS Wipneus

RSS Woestynsand

RSS Wosonki

RSS Zee

Van Waar…..

SA Top Sites

Statistiek

  • 38,668 Loere
Jo-Ann Schou's Facebook profile

Bookmark

Bookmark and Share