Ek het deur my ou laerskool se jaarboek geblaai en vasgesteek by ‘n groepfoto van kinders wat aan ‘n operette ter inwyding van die nuwe skoolsaal deelgeneem het. Dit was “Reënboogland” en ek was maar klein toe dit plaasgevind het. Na daardie operette het ek feëtjies geteken en feëverhale opgedis totdat dit by my arme ma se ore uitgekom het.
Die Latzki tweeling was die feëtjies. Hulle donkerbruin hare het lank en blink tot onder hulle boude gehang – soos skouermantels. Met die verhooggrimering aan was hulle popmooi soos net feëtjies kan wees. Ek kan die groot paddastoele en die feëtjies onthou; die res is maar baie vaag. Ek wonder soms wat het van die tweeling geword. Dalk sal Birgit weet aangesien hulle ongeveer ewe oud en van dieselfde omgewing was.
Ek het ’n paar jaar terug met ‘n ses-jarige dogtertjie in ‘n tuin gestap waar daar ‘n waterstroom en visdamme was. Goggatjies het sulke klein pikkies in die water gemaak, so klein dat mens nie kon sien wat dit gemaak het nie en die kind het gevra wat so maak. Dit was ‘n pragtige stil en rustige tuin en op die ingewing van die oomblik het ek vir haar gesê dit is ‘n feëtjietuin en dit is die feëtjies wat so op die water dans. Sy kon natuurlik nie die “feëtjies” sien nie en kla toe ook daaroor. Ek het toe vir haar vertel dat net die soetste soet dogtertjies feëtjies kan sien. Ek was verbaas dat sy in hierdie modêrne lewe met, daardie tyd, Pokemon en ander monsters op TV, vir my geglo het en so ver gegaan het om vir die feëtjies feëtjiebrood uit te sit. ‘n Jaar of twee later het sy met my geraas omdat ek vir haar gejok het, maar sy was en is tot vandag toe nog een van die mees voorbeeldigste kinders wat ek ken. Kinders moet in feëtjies en die tandmuis glo en vir langer kind bly en ons moet nie nodig hê om pienk hempies aan te trek en te betoog vir hulle vryheid nie.
Vir al die dogtertjies daarbuite wat nog nie van feëtjies gehoor het nie, los ek hierdie twee liedjies se woorde en ek hoop iemand wat die deuntjie kan onthou, sing dit vir hulle…
Feëland
Woorde: MAXIE DE VILLIERS
Daar is feetjies, kleine feetjies in my tuintjie.
En ek wonder wie kan raai waar hulle woon.
Hulle huppel heen en weer op die blaartjies sag en teer;
hulle huisies is die blommekelkies skoon.
Daar is feetjies, kleine feetjies in my tuintjie.
Hulle vlerkies skitter fraai in sonneskyn.
Hulle fladder hier en daar, speel so lieflik met mekaar;
hulle rokkies is gemaak van blou satyn.
Daar is feetjies, kleine feetjies in my tuintjie.
Op hul hofies dra hul elk ‘n blommekroon.
Elke keer as hulle lag klink dit helder, lief en sag.
O, ek wens dat hul vir altyd hier wil woon.
FEËKLOKKIES
Woorde: MAXIE DE VILLIERS; gewysig: P. MCLACHLAN
Luister, luister wie daar fluister in die stille nag.
Soetjies, soetjies, ligte voetjies, kom die feetjies sag.
Laggies, laggies, saggies, saggies dans hul om die maan,
goue lokkies, silwer rokkies het hul almal aan.
Trippe trappe, trippe trappe, kom hul om my bed.
Trippe trappe, trippe trappe, ons het baie pret.
Knypies grypies, knypies grypies pluk hul aan my toon,
ruk en pluk en ruk en pluk die hare van my kroon.
Tiengelinge, tiengelinge tot die hane kraai.
Tiengelinge, tiengelinge klingel klokkies fraai.
Liggies vluggies, liggies vluggies fladder hul weer weg;
feetjies, feetjies kom tog weertjies, dit was glad nie sleg!









Ek dink ek was te stout toe ek klein was – ek kon ook nooit feetjies sien nie… en toe word ek groot en al hoe soeter ;o) – en na ‘n leeftyd van harde realiteite begin die een na die ander feetjie op my lewenspad spore te dans – daar’s ‘n Elf en ‘n Jo-Ann en ‘n Renétjie en ‘n Christa… ek sien hulle elke dag, maar ook nie… ek praat met hulle elke dag, maar ook nie… ek skryf oor hulle en vir hulle… en niemand wil my glo as ek van hulle vertel nie – ek weet nou presies hoe ‘n 6-jarige voel wat ‘n grootmens probeer oortuig van hulle bestaan!! Keep touching people’s hearts, Jo-Ann! It’s what you’re best at! xx
Brb … my keyboard is just taking a quick shower underneath the liquid smiles pouring down like rain from my head hovering above it.
Terwyl ek gelees het was my comment reeds besig om iewers in my gedagtes vorm aan te neem, maar vir nou is ek stil, ontneem van woorde, sit ek amper soos ‘n klein kind ongelowig na julle en staar, maar in soveel verwondering dat ek amper emosie-loos lyk van buite ..
Maar terwyl daardie druppel oor my wang gly skyn julle lig daardeur en weerkaats dit skielik ‘n reënboog. Ek is steeds woordeloos, maar ek glimlag agv julle .. and I know that with friends like the two of you (and CP of course) I can close my eyes and walk because I will be ok.
Het julle die advertensie met die baba en die feëtjies gesien…. ek verkyk my daaraan. Ek strooi feëtjiestoffies oor julle naweek – mag julle laggies soos klokkies klingel en julle glimlagte straaltjies lig op donker gemoedere om julle laat skyn.
Beautiful! Ek het twee poppies van 7 en 10 en hulle soek gereeld naarstiglik na die feetjie wat ek nou net agter ‘n varing sien wegglip het!! Hehe
Magical…
Dankie Jo
Liefde
Mona
Ek het lank gesoek na die lietjie se woorde. Het altyd vas gehak by ‘in die stille nag’
Dankie vir die woorde en ook vir die ander liedjie. Het al vergeet daarvan.
Ken darm die wysie van altwee. Snaaks hoe goed ‘n mens net byval as jy dit weer sien.
DANKIE BAIE!!