03
Apr
07

Liefde Is…

Ek het gister in die verkeer vasgesit op die N1 omdat ‘n karavaan gerol het.  Dit het 30 minute geneem om ongeveer 1km te vorder terwyl ‘n deel van die N1 gesluit was.  Genadiglik het ek “teen” spitsverkeer gereis en was ek heel rustig en droomverlore nadat ek myself heerlik bederf het met koffie by Mugg & Bean in Cape Gate.  My gedagtes was besig met een van my ou gunstelinge wat ek die vorige aand weer gekyk het, naamlik Yentl van Barbara Streisand.  Die hartseer refreine het in my kop gemaal, “ Papa, can you hear me? Papa, can you see me? Papa can you find me in the night? Papa are you near me? Papa, can you hear me?

By die tyd wat ek soos gebruiklik by die geriefswinkel oppad huis toe aangedoen het vir een en ander, was ek lui en verveeld; so half aan die slaap.  En soos gewoonlik was die diens vriendelik, maar stadig gemeet aan stadstandaard; regtig Slaapstatterig.  Toe sien ek dit!  Kan jy nou meer, so bietjie déjà vu.  En daar gaan ek jare terug, sommer baie jare.  Ek kou nie graag kougom nie, maar ek moes net ‘ n pakkie “Love Is” kougom koop om die prentjies te kry.  En hier is hulle!  Goed, ek het hulle so bietjie gedokter om die ander tale uit te haal (iets wat lyk soos arabies en russies) en net die engels gehou.

Onthou jy nog toe daar elke week “Love Is…..” in die tydskrifte was?  Dit is vreeslik lank terug!  Ek het dit getrou uitgeknip en dit was sulke goed wat in ons “plakboeke” beland het tussen al die gediggies en ander “Liefde Is” aanhalings.  Ek was ook ‘n maestro hartjie tekenaar.  Ek het nie juis veel liefdesbriefies geskryf nie, maar ek was ‘n “love letter decorater” en baie in aanvraag.  Vandag lag ek daaroor en ek kan nie eens ‘n ronde sirkel trek nie, maar ek kan nog steeds ‘n vreeslike oulike hartjie teken. Verder kan ek net my naam teken en weet ek van “cut, copy & paste” op enige Windows-gebaseerde program.

Ek staan verbaas oor die vooruitgang in alles.  Dinge is blinker en aantrekliker en beslis meer kleurvol as toe ons tieners was.  Maar is plakboekkuns vandag regtig ‘n kuns?  Ek het ook oulike pakkette wat alles bevat om pragtige plakboeke te maak.  Dit is egter wat dit is; knip, skeur, plak.  Daar word nie geteken nie.   Dit is vir my so half soos vandag se motorwerktuigkundiges wat nie meer motors regmaak nie maar slegs onderdele vervang.  

Nog iets wat mens nie meer sien nie is die vele skryfblokke van jare gelede.  Dit was tog te lekker om tussen die skryfbehoeftes te snuffel en na al die mooi skryfblokke te kyk. Die mees gewildstes was die soort met ‘n watermerk in skakerings van oranje van twee verliefdes wat op die strand stap of in ‘n omhelsing staan teen sondonder.  Om ‘n skryfblok te kon koop met jou bietjie sakgeldjies was te heerlik.  Dit was ‘n kosbare kleinood wat Maandag bladsy vir bladsy uitmekaar getrek is om uitgeruil te word; natuurlik na die hele naweek se bekommernis dat jy dalk sit met ‘n “dubbel”.  Ja, ons het nie sommer daarop geskryf nie, dit was bêre-goed.  Ons het op gewone wit papier geskryf waarop ons self dekoratiewe raampies met hartjies, blommetjies en skoenlappertjies geteken het.  Dit was te eenvoudig om liefdesbrief op gekoopte papier te skryf – so sonder moeite  Ek onthou ook goed dat daardie briefies op ‘n spesifieke manier gevou is.  Onthou die kysbriefies?  En die latere afsêbriefies? 

Vandag is dit net Mxit, MMS, SMS, E-pos en Chat.  Dit is seker hoekom ons generasie so graag blog.  Miskien mis ons die dae van ons dagboeke, plakboeke en baie briefies.  Miskien wil ons net vir ‘n oomblik weer stilstaan by ‘n briefie wat nie in kriptiese taal geskryf is om in 60 spasies te pas nie.  Liefde is…. briefies oor my grys kasteel se muur!


2 Responses to “Liefde Is…”


  1. April 3, 2007 at 9:24 vm

    En elke keer as ek jou posts lees besef ek waarom ek moes ophou blog. Jy is briljant. En ek weet presies waarvan jy praat hierbo, wowie .. vat jy my nou hele paar jaar terug. Ek het snaaks nooit die ‘Love is’ prentjies gebêre nie al onthou ek dit goed .. weird, dalk het ek toe al geweet dit bestana net op kougom papiertjies .. en dat daardie bubbles gou bars nadat dit geblaas word en die smaak gou vervaag.

    Anyways … geniet jou dag. Dankie baie vir die moeite gistermiddag, vir die sit by onse tafel, en vir my spookasem pienk sonsondergang wat ek deur jou oë sien terwyl ek in die gym is. Some bonds simply can’t be broken …

    And the freedom of cutting others loose on the other hand … indescribable! Mwah x

  2. April 4, 2007 at 3:50 nm

    Skakle na die ou “Love Is…” karaktertjies – Wowie!
    http://www.comicspage.com/comicspage/main.jsp?
    catid=1450&custid=69&file=20070403cplis-a-p.jpg&code=cplis&dir=/loveis


Leave a Reply




Sew Pretty Homestyle

Kaapstad, Suid-Afrika

Dis ek die…

Kalender

April 2007
M T W T F S S
« Mar   May »
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  

Argiewe

MY GUNSTELINGE

RSS BB’s Blog

RSS Boendoe

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Boer in Ballingskap

RSS Da Mario

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Die Pienk Zuit

RSS Ding se Dinge

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Gert Gariep

RSS Karin se Dink en Droomplek

  • Fin September 26, 2009

RSS Kokkewiet

  • ?? Oktober 21, 2009

RSS Pikkelik se Blik

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Wipneus

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Woestynsand

RSS Zee

Van Waar…..

SA Top Sites

Statistiek

  • 42,018 Loere
Jo-Ann Schou's Facebook profile

Bookmark

Bookmark and Share