Ons het ‘n dieretuin in die kleine. Dit is op sigself nie vreemd nie, maar wat wel is, is dat ons altyd diere, voëls, en visse, kry wat so bietjie getik is. Of miskien dink ons net so.
Daar is Dogg. Iemand het eendag gevra of diere kan stout wees. Dogg is. En hy weet dit. Hy weet net nie wat stout is nie en kom staan voor mens met daardie botter-kan-nie-in-die-mond-smelt-nie gesiggie en swaai die stertjie soveel so dat jou hart vermurwe en die lag vlak saam in die raasstem sit. En hy weet dit ook goed. Dan raak hy sommer laf en gaan haal ‘n bal vir speel – stoutigheid lankal vergete. Toe hy aanvanklik, van die straat af, by my beland het, het hy kos weggesteek vir later. Hy los nou sy kos in sy bak. Hy steek net dit wat hy nie van hou nie weg sodat hy die leë bak vir my kan insleep kombuis toe; met ‘n groot lawaai en ‘n kyk van “arme hondjie”. As daardie bak so ingesleep word, kan mens maar in die potplante en agter die banke gaan kyk vir die hopies kos.
Die kakketoe dans as mens vir haar Nkosi Sikelel’ iAfrica fluit; nie op Jan Pierrewiet of enige ander deuntjie nie. Sy is nou al tegnies gesproke ‘n oujongnooi en wys elke lente haar frustreerdheid. Ons word gehap, tensy ons op die lekker plek krap, en haar bors word kaal gepluk. Dan lyk sy erg oes. Ons het een aand gedink hier gaan voëltjie oorle raak toe sy die vreeslikste geluide gemaak het en haar lyfie inmekaar getrek het. My man het half histeries gevra dat ek die veearts bel om te hoor of ons haar kan inbring en ek was nog besig om die nommer te soek, toe die geil eier op die mat val en voëltjie onmiddelik weer heel liefdevol teen die Engelsman se borskas begin klein kletsies maak.
Die Engelskind het ‘n kokketiel, Rocky, en ‘n Love Bird, Other Birdie. Die ding se naam is dit omdat niemand kon besluit op ‘n naam nie en daar is toe na dit as die ander voëltjie verwys en dit het maar daar gebly. Other Birdie gaan vreeslik tekere as ons die kokketiel se hok skuif. Maar as die hokke teenmekaar staan, probeer hy vir Rocky byt.
Dan is daar die tenk goudvisse. Goudvisse is goudvisse is goudvisse. Verkeerd. Nie ons s’n nie. As my man by die deur van die Engelskind se kamer praat, dag of nag, is daardie visse onmiddelik vreeslik besig in die tenk tot hulle kos kry. Die Engelsman praat altyd met hulle wanneer hy hulle voer en die goed reageer op sy stem. Hy hoef net “hallo fish” te sê om die spul aan die gang te sit. So jaar terug het die Engelsman vir my gesê die een vis gaan vrek want hy lê op sy sy. Daardie vis leef nog steeds en hang soms pens boontoe in die water. Ek spot en sê hy ly aan winderigheid, want hy dop om ‘n rukkie nadat hy geëet het. As die Engelsman egter met “hallo fish” die kamer instap, makeer daardie vis niks en swem hy onder die ander uit vir die beste vreethoek.
Behalwe vir die dieretuin, is daar nou al ‘n paar voëls deur die “hospitaalhok”. Einstein en Fuzzy het dit nie gemaak nie. Foots en Fluffy is heel gelukkig vrygelaat. Maar dit is stories vir ‘n ander dag.









Dit is eers as jy soveel aandag aan diere skenk, dat jy agterkom hulle het ook elkeen hulle eie persoonlikhede – nes mense.
Ek is bly julle geniet julle diertjies. Dis so war wat Jaco sê. Ek dink dis terapeuties om aandag aan diere te gee. Ons het op die oomblik net een, ek sal nog verslag doen.
Ahhwww! Ek is MAL oor diere met karakter – hoe meer hoe beter! Van lotjie getik werk ook, want dit reflekteer goed op my. hehe
My Basset “Sage” het die weirdste gewoontes. Sal 10 minute vat om haar bed na haar smaak reg te ruk en pluk. Stoot met die neus hier, pluk daar, staan terug en bekyk die spul, stoot weer daar, krap hierdie kant – skreeusnaaks! Sal ook ‘n bevlieging kry en besluit haar kosbak moet iewers in ‘n hoek staan. Kreun, steun en mompel natuurlik heeltyd wat sy “opruim”. hehe
Na ons haar maatjie (Golden Retriever) moes uitsit verlede jaar, het sy daardie middag sy handdoek so bewerk dat dit sy kosbak heeltemal bedek het, maar nêrens oorhang nie. Dit was nie so snaaks nie, net seer en kosbaar..
*Sug* Diere praat met ‘n ander deel van my. Mag ons dit nooit verloor nie.
Liefde
Jou mos lankal gesê … birds of a feather!!!
Mense soos jy gaan hemel toe…..
Ek hou van jou dieretuin…wat is die toegangsfooi?