My geheue is nie meer so goed nie, maar was dit nie Jan of Koos die Groenteman wat al klingelinge deur die straat gestap het met hulle groente nie? En kon mens nie vir ‘n oulap ‘n lemoentjie en vir ‘n sikspens ‘n pampoentjie kry nie? Nou ja, iemand het gevra ek moet vertel wat maak ek op Nuweland en by die Rittelfees.

Ek smous. Vir ‘n oulap en ‘n sikspens. Ek werk vir brood en smous vir jam. Op Nuweland smous ek darem nie met groente nie, maar met rugby ondersteunersware. Ander vrouens doen die dame ding en smous met tupperware, grimering, parfuum, juwele en ‘n menigte ander goed. Ek is egter nie die teepartytjie tipe nie en ek geniet my smousery baie meer as enige stywe teestorie. Dit is net die lyf wat nou stadig begin vra dat ek so bietjie briek moet aandraai. Dit is nou nie asof ek net winkel oopsluit en kasregister aanskakel nie. Wanneer ek in die oggend by my “winkel” opdaag, staar ‘n leë stuk grond vir my en ek moet dak maak en uitpak en soms keer dat die wind en die weer nie my “winkel” versprei na die uithoeke van die aarde nie. Soms is dit vet pret, soms is dit ‘n erge frustrasie en soms, soos op Vredendal, smaak dit my ek sit neffens die hel. Maar keer of keer slaan ek maar weer die tydelike winkel op. Ek kan net nie soos die tipiese Nuweland smous loop en “hats, caps, flags” skree nie. Of die mense kom kuier by my by my stalletjie en ondersteun my daar of niks.

Ek doen die smouserystorie nou al vir sewe jaar. Die hantering van die store en aankope van die voorraad is deel van my kantoorwerk as persoonlike assistent. Die man waarvoor ek werk, het ‘n groepie smouse waarvoor hy op voorskotbasis voorraad voorsien omdat hulle nie die kapitaal het om groot hoeveelhede voorraad te dra nie. Dit is waar ek inkom in my formele werk – ek hanteer daardie uitreikings en terugontvangs en dit raak rof wanneer daar naweke agtermekaar rugby op Nuweland is. Omdat ek daar moes wees om ogie te hou, het ek toe self ‘n stalletjie opgeslaan en begin smous. En dit geniet. Ek kuier en gesels die hele dag – as dit nie besig is nie. En ek leer baie uit die “universiteit van die lewe”.
By die Rittelfees is die Bulle aanhangers my beste ondersteuners. Hierdie jaar het die WP ondersteuners halstarrig by hulle span gestaan en ek het te min WP goed uitgeneem fees toe. Springbok ondersteuners is baie warm en koud. Ek het die week voor die Wêreldbeker eindstryd hard verkoop aan Springbok truie wat ek twee maande terug al gekry het en aangebied het teen ‘n baie kompeterende prys. Ek was simpel om die goed nog steeds teen ‘n goeie prys te verkoop. Maar dan kon ek nog nooit mense wat my ondersteun “rook” nie.
Ek sal sekerlik volgende jaar weer op Nuweland wees. Miskien loop jy my nog die jaar raak op ‘n ander fees. Ek soek plek om die Wêreldbeker Kampioene ware wat uitgegee gaan word te smous. Ek het die sketse gesien. Die goed is besonders mooi en iets om te hou as aandenking. Anderdag wys ek ‘n bietjie.









Dis ‘n interessante “stokperdjie”! Ek glo dit kan rof raak by tye, maar niks in die lewe wat die moeite werd is is mos altyd maklik nie.
Fanx J-A! nou weet ek ok! Ek kan nogal dink dat mens die mees amazing karakters ontmoet!!
/me is gladnie ‘n sales-girl nie
Ek vra geld, ja, maar jy kry niks in return nie
Hey! Jy moet bietjie wys wat jy ALS verkoop – miskien kan ek vir my boet en my pa ietsie koop by jou?
Gaan bietjie uitkyk vir jou. Hoe sal mens weet dis jou stalletjie?
Dis altyd lekker om te sien wat die bloggers alles vir ‘n lewe doen.
Hallo Marina & Kandas, welkom hier by die Seepkissie!
Kandas, as jy ooit by Laerskool Grootte Schuur parkeer om rugby te kyk, kyk dan net uit vir die Blou Gazebo by die tennisbane.
Marina, dit is net my “ekstra inkomste”. Dit is so in teenstelling met my formele kantoorwerk dat dit eintlik verfrissend anders is. ‘n Kwessie van rol die moue op en doen “dirty work”. Ek geniet die geselsgedeelte baie.
En waar kan mens nou ‘n biertjie geniet terwyl jy werk sonder dat wenkbroue gelig word – net by die rugby. In matigheid natuurlik, mens werk immers met geld.
Louisa, as jy in die Kaap is, pak ek al die kaste vir jou uit. Oor langsafstand werk dit nie omdat die versendingskoste so hoog is.
BB/MyKopOp, ek geniet die vorm van verkope. My beste dag nog was R35k omset in 6 ure en die duurste item in my stalletjie daardie dag was R300. Ek het dit alleen gedoen en ek het net hier en daar grond gevat. My bloed het egter deur my are gebruis van die “high” waarop ek was!
Ek het erg baie respek vir jou – en ander – wat die aandenkingstalletjies beman: ek het darem al simpel mense gesien wat dronk-dronk van die goed van die tafels afgryp, die verkopers moeilikheid gee en sommer net p**polle is (jammer maar daar is geen ander term wat hier reg sal laat geskied nie!). Sterkte, en geniet dit! As ek ooit weer suid van die Oranje by ‘n rugby-regalia stalletjie verbyloop sal ek twee keer kyk wie daar is, en seker maak ek dra ‘n ekstra Blou-bul-pet geldjie by my!
Groetnis
Ai, hoe verlang ek nie nou nie!
Keep up the good work Jo!
(((Jo)))
Sien jy nou weer hoekom is ding so erg stout oor jou?
Jo, kanse dat ding in hierdie lewe weer naby Nuweland gaan uitval, is skaars, maar skaarser as dit is die kans dat ding daar naby sal wees op ‘n rugbydag. Maar ding sou darem wragtag nie omgegee het om jou daar raak te loop nie!
Baie, baie dankie vir die deel hiervan – dit was nou ougat, man! Jy is maar net een op jou eie. Bly net so!
Obiter: ding het homself bietjies-bietjies verkneukel oor BB se opmerking – kostelik, jong!
Hehe Duskant, hierdie tannie het ‘n kwaai oog wat babas in winkelsentrums aan die huil sit. Ek het nog net twee pogings gehad en die tweede ou het ek met ‘n kwaai kyk en ‘n byt in ‘n paar afgemete woorde oortuig om die item mootjies terug te sit en te maak dat hy wegkom. Het jy al mens met stert tussen die bene sien loop?
Ja, soms is daar ‘n dronkie of wat, maar by die skool is daar manne wat uitkyk vir my en ek vat daardie reus van ‘n engelskind saam en sy oog se kyk is al net so kwaai! Ek het nie probleme nie en van die mense soengroet al soos ou familie….
Goeie Middag
Jy is altyd welkom om regtig jou produkte te gaan smous. Ons kan jou help op 2 maniere. Die 1st is die main website http://www.smous.co.za en die ander kan ons bietjie oor jou produkte uitberei en die mense vertel op die blog http://www.smous.co.za/blog.
Laat maar weet wat jy dink.
Groete
Mal Smous