Toe ek jonk was, was dit ‘n onding om ‘n gebyte appel aan ‘n ketting om jou nek te dra. Net slegte meisies het tangas gedra. Dit was doodsonde as jy gerook het.
Toe kom ek stad toe. Nog was ek horende doof en siende blind; of miskien was dit wat die oog nie sien nie….. In die laaste paar jaar het ek egter met subkulture te doen gekry wat ek nie eens geweet het bestaan al lankal nie en die jongste waarvan ek bewus geraak het, is die EMO kinders. Ek het tot ‘n week terug nie ‘n idee gehad daar is so iets nie. Daar stap elke oggend ‘n jong leerder van ‘n skool in die omgewing verby ons huis en dit is duidelik dat haar hare swart gekleur is en dit is in ‘n eienaardige styl gestileer; dit herinner aan ‘n Amerikaanse “Bison”. Dit was toe ek teenoor my seun opmerk hoe sy vir my lyk, dat ek ingelig is dat sy ‘n “EMO Kid” is. Ek het net “oh” gesê en met ‘n spoed gaan google toe ek by my rekenaar uitgekom het. 
Ai tog. Daar is ‘n webtuiste waar jy kan gaan vasstel hoe EMO jy is en een van die die eerste vrae is “huil jy”. Sien, die mense is kronies hartseer. Soos wat mens mense kry wat verlief is op die liefde, so kry mens EMO kinders. Hulle is behep met hartseer. Die EMO staan vir “emotional” en dit is wat die kinders hulself noem.
Die EMO kinders se voorkoms lyk soos ‘n kruis tussen Goties en Punk, maar daar is relatiewe verskille. Wat my veral pla, is dat van die EMO kinders hulle self sny of brand met sigarette; iets waarna hulle verwys as “cutting”. Natuurlik word die beserings van ouers en gesagsfigure weggesteek en net met ander EMO kinders gedeel.
Die kinders praat graag oor hoe hulle voel en hulle is meestal sensitief, ietwat skaam, ly gewoonlik aan ‘n gebroke hart, kan teruggetrokke voorkom en kan stil wees en maklik onsteld raak. Hulle skryf oor hulle gevoelens in lang, donker depressiewe gedigte.
Sover kon ek nog geen Afrikaanse leesstof kry oor die subkultuur nie en ek is nogal nuuskierig om te sien hoe skeppend ons Afrikaanse EMO’tjies kan raak.
Behalwe vir die kenmerkende haarstyle wat oorwegend behels dat die hare swart gekleur word, en oor een oog gekam word, het die EMO kinders ook ‘n klerestyl van hul eie. Dit sluit baie keer styfpassende T-hemde in wat die name van hul gunsteling rockgroep mag vertoon, stywe denims, gordels met klinknaels en groot gespes, swart skoene en swart dikraambrille in. Donker oogomlyner is ook kenmerkend aan die kinders se voorkoms.
Die musieksmaak van die kinders mag dalk oorspronklik Punk Rock gewees het, maar die EMO kinders voel nie gebonde aan spesifieke groepe nie. Ek het ‘n webtuiste raakgeloop wat ‘n geweldige ontleding van EMO musiek gegee het van EMOcore tot by Screamo, maar ek dink eerder dat Mary Kirkland se waarneming van die EMO kinders se musiek assosiasie meer in die kol is. Ek hoop in elk geval so – daardie groepe se name is genoeg om my slapelose nagte namens die kinders se ouers te gee…. Converge, Threadbare, Unbroken, Guilt, Botch, Fall Silent, Jihad, Coalesce, Dillenger, Escape Plan (van die hard-core groepe).
Ek het op een plek ‘n bevestiging gelees dat die EMO kinders nie ‘n hippie bewegings is nie. Ek kon nêrens verwysings na drank- en dwelmgewoontes kry nie. Mary Kirkland het net verwys daarna dat die kinders geneig is om by musiekwinkels, kunswinkels en koffieplekke uit te hang. Verhoudings is ook van kardinale belang vir EMO kinders en hulle sal jou dit graag vertel. Dit maak nie saak met wie die verhouding is nie, familie, vriende, kêrel/meisie, dit word baie ernstig opgeneem. Dit is hoekom hulle so emosioneel raak as ‘n verhouding verbreek word.
Nog iets wat geweldige gevaarligte by my laat flikker, is ‘n “did you know” wat ek raakgesien het op ‘n amptelike EMO webtuiste . Dit vra of jy weet dat EMO meisies dit baie aantreklik vind as twee EMO seuns mekaar soen? En daar is ‘n paar foto’s beskikbaar ter illustrasie. Siek!?
Ek wil nie graag oordeel nie en gun elke diertjie sy plesiertjie en ek glo ook dat diversiteit juis die lewe interresant maak. Meeste van hierdie goed is vir baie van ons jongmense van verbygaande aard; ‘n tipe been there, done that. Maar as my kind se leuses onder andere “Life is Pain” en “Pain leads to Happiness” is, en hy steek “cutting” trofeë onder lang moue weg, gaan ek een baie bekommerde ma wees. Die meeste EMO kinders glo dat die wêreld ‘n pragtige plek is, maar dat dit vol inwoners is (ander mense as hulself, met ander woorde ek en jy) wat verlore, depressief en haatlik is.
Om “anders” te wees kan “cool” wees, maar om van die bus af te voeter en eksklusief deel te wees van ‘n subkultuur wat nie wil weet hoe om te lag nie, is beslis dom en ‘n vermorsing van wat die mooiste jare van jou lewe kan wees.











Kommentaar