
My seun het vir my gelag, maar dit was ‘n halfhartige lag; so al asof hy eintlik saam wou huil. Ek het nog min films gekyk wat my so ontstel het. Kan jy jou indink dat ‘n man voor jou staan en vra dat hy geskiet word? Dat hy dit vra omdat dit vinniger en minder wreed en sekerlik minder vernederend sal wees as die sekere dood wat hy later tegemoet moet gaan?
Ek het Hotel Rwanda gekyk omdat daar so baie media aandag daaraan gegee is. Natuurlik het dit my geskok en het ek van vooraf teleurgesteld gevoel in ons samelewing. Hotel Rwanda het my egter nie soveel geraak soos Shooting Dogs, ook bekend as Beyond the Gates, nie. Ek het laasnag sleg geslaap nadat ek gisteraand die film gekyk het. Elke keer wat ek wakker geword het, het ek in my geestesoog beelde gesien van bebloede pangas (machete knives). ‘n Beraamde 800,000 mense het gesterf in hierdie menseslagting oor ’n periode van 100 dae. Meeste daarvan omdat hulle van die Tutsi etniese groep was; omdat hulle sogenaamde “kokkerotte” was. Die film het my genoop om bietjie te gaan oplees oor die geskiedenis en ek het redelik baie leeswerk bymekaar gemaak waarmee ek beslis ‘n paar dae besig gaan wees. Miskien sal ek later verstaan, maar oor hoekom niemand die slagting probeer keer het nie sal ek nie verstaan nie. Het die wêreld ‘n houding ingeslaan van “it is only Africans”?
Ek wonder of die UN en Amerika so magteloos en onoortuig sou wees om in te gryp as daar minerale rykdom en olie in oorvloed was in Rwanda soos byvoorbeeld in die Ivoorkus? Ek wonder of daar in so geval nog gevra sou word “what genocide”? Dit terwyl die stofstrate swart gekoek was van die bloevergieting en die UN soldate nie bereid was om meer te doen as om die honde wat aan die lyke wou eet te skiet nie. Agterna het Amerika gesê “oops sorry“….. en tien jaar later het die monster nog steeds verwoesting gesaai in ander vorme ….









Kommentaar