Dit voel asof hierdie week soos die een voor hom wil verbystorm. Gits, dit is al winter. Wel amper. Net twee maande, dan draai Suider Afrika weer sy gesig nader na die son toe. Dit is net die koue vir die volgende ongeveer 16 weke wat tussen ons en ‘n vrolike lente lê. So kom Kersfees alweer nader.
Dit was net anderdag wat ek met my Pa lughawe toe is vir sy reis na Pakistan vir ‘n kontrak as masjienis ter see. Die vier maande is alweer amper om. Uit die e-posse van die boot af is dit baie duidelik dat Oupa Henk die dae ombid. Dit is nie baie lekker om vir so lank so ver van jou mense te wees nie. Hulle is net 7 bemanningslede op die boot en is gemoeid met bystand vir ‘n maatskappy wat betrokke is by ontginning van oliebronne in die see. 7 mans op ‘n boot vir 4 maande = knorpot, ‘n groote en plofbaar. Ek dink hy kuier my en sy susters op as hy weer in die beskawing beland. Ek dink ook nie hy sal sommer nog ‘n kontrak neem nie. Dit betaal goed, maar dit is darem maar te lank en te ver en daar is beslis te veel voorskrifte en te min fyner geselskap.
Ek is in my noppies met die Stormers se posissie in die S14 toernooi. Ek is net bekommerd oor die beserings en hoop dat die ritme van die span nie versteur word nie. Dit lyk my die kombinasie van Rassie en Jean werk. Ek was nog nooit ‘n groot aanhanger van Jean nie en glad nie beïndruk met sy aanstelling as kaptein nie, maar ek eet deesdae bietjie “humble pie”. Ek glimlag oor meer as net ondersteuner wees. My beursie voel mooi sag rond. Dankie manne – hoog tyd!
Wat noem mens dit as jy blogs slaafs lees maar nie kommentaar lewer nie? Iewers het ek so half afbrekende term daarvoor gehoor en was sommer vies. Ek lees blogs op my selfoon en lewer soms selfs kommentaar, maar oor die algemeen sê ek net iets as ek regtig ‘n bydrae het om te maak of ‘n punt wil stel.
Ek moet ‘n aanbieding voorberei vir ‘n onderhoud vir ‘n pos waarvoor ek aansoek gedoen het. En ek weet nog nie wat om te sê nie. Sal maar bietjie moet rondkrap vir idees - gelukkig is daar heelwat tyd en ‘n langnaweek voor D-dag! Ek dink ek moet by een of twee van die bloggers gaan kers opsteek sodra ek struktuur het vir wat ek wil doen.
Nou ja, dit was ‘n slag tyd dat ek vir ‘n wyle my boud haak op die kissie en net “hoesit” sê. Ek raak stil want ek is besig. As WordPress besluit om steeks te wees, wat nogal verbasend baie is, verloor ek gou draad. Ek het darem my kamera se batterye gelaai sodat ek vir OIP ‘n slag foto’s kan neem. Daar is ‘n paar mooi herfsprentjies wat afgeneem wil wees. Vir eers moet ek egter weer besig raak om my brood te verdien. Arriverderci, au revoir, aufwiedersen, hasta la vista!
![]()










Kommentaar