
So met die kykery na almal se foto’s uit hulle kleintyd het ek weer gedink aan hoe anders en eenvoudig ons kinderdae was. Ons was ongekompliseerde kinders wat gelag en gespeel het nog regtig dom was toe ons skool toe gegeaan het. Gits, ek was reeds ‘n volwasse vrou toe ons TV uitsendings gekry het – met ‘n toetsbeeld in die middag en ‘n vlaggie wat wapper aan die einde van die uitsending!
Op die foto is ek en my oudste broer, Aart, en ons bure van destyds se twee dogters, Brenda en Lolla. Aart sit voor en ek sit regs agter. Die houtkrat waarin ons sit was ons kar. In daardie kar het ons ver paaie gery. Aart het bestuur, want al was hy die kleinste, was hy die man. In ons klein wêreldjie op Rietfonteinromery het vrouens nie bestuur nie.
Ek en Aart het kort nadat ons Walvisbaai toe getrek het, vir ons ‘n tok-tokkie boerdery begin. Natuurlik tot ergernis van my ma. Daardie goggas het aanmekaar uit die kartondose probeer klim, die sand wat ons in die “plase” gesit het vir die tok-tokkies was die huis vol en die goed stink, maar sy het ons gelos om te speel. Ek kan egter nie onthou wat op die einde van ons plase geword het nie. Dit was seker deur ‘n “natuurramp” op twee bene uitgewis…
Ons kon ure buite speel met ons karretjies en plastiese plaasdiertjies. Ons het paaie gebou en “lyndrade” gespan met vuurhoutjies en wol. Ons het huise en plaasgeboue en krale gebou uit al wat ‘n stukkie afval was. My ma het sulke dae nie van ons geweet nie.
Dit was ook vir ons as kinders ‘n voorreg om in die parkie te kon gaan speel en ons het elke dag gevra en ons ma het elke dag ja gesê. Dit was daardie jare nog veilig vir kinders om buite te speel en die parkie was reg oorkant die huis. In daardie dae was die parke nog die dorp se trots en die swaaie, gly- en wipplanke is goed onderhou. Daar het elke dag kinderlaggies in daardie parkie weerklink.
Ek het mooi herinneringe van my kinderdae. Ek wens so dat daar nie Sheldeans en Michaela’s hoef te wees nie. En ek wens die parke word weer vol kinders wat weet hoe om te speel – sonder om ‘n selfoon in een hand vas te hou….


Ek sal nooit vergeet hoe lekker dit was toe ek my swart dikwielfiets by my pa gekry het nie. Dit was die dag toe ons verder weg van die skool af getrek het. My ma het voldag gewerk en hy het die fiets vir my gekoop sodat ek gerieflik tussen die huis en skool kon beweeg vir na-uurse bedrywighede. Dit was regtig net ‘n funksionele fiets – die absolute basiese met praktiese dik wiele wat in Walvisbaai met sy sand van onskatbare waarde was. Dit was die deursnee fiets van die deursnee kind, maar vir my was dit ‘n “Rolls Royce”. Dit was ook nie lank voordat ek die amper drie kilometer tussen ons huis en die skool loshande kon aflê nie.





Dit is waar ek vandag staan…. die een kant is die “road less traveled” of in my geval – “never”… en aan die ander kant is die pad waarop ek nou is wat die pad na nêrens is nie. Op my huidige pad het ek die plafon in my beroep al lankal bereik en is daar net geen meer uitdagings of nuwe doelwitte nie. Die ander pad is een helse groot uitdaging met groot belonings – mits ek die pyp rook. Ek is opgewonde soos ‘n kind, maar my gereserveerde skadukant is versigtig en sien bobbejane agter elke bult. ‘n Duisend “what if” spoke maal in my kop rond. Ek sit en wag nou vir die aanbodbrief en dan is dit tyd om te besluit en te teken. As ek geteken het en die kennistydperk begin, kan ek nie weer op die pad terugstap waarop ek nou is nie, want my plaasvervanger moet ook kennis gee. Hierdie huidige pad is een wat nêrens heen gaan nie en as ek eerlik met myself wil wees, waar ek vir elke twee treë vorentoe, een agtertoe gee – al lankal. Dit is die bekendheid waarin ek gemaklik geraak het en ‘n bewuste blindheid wat my nie laat agtergekom het dat ek eintlik stadig besig is om te verwelk nie. Ek is soos ‘n plant wat in die kas gesit is en nie kan groei nie, maar stilletjies versmoor. Ek is opgewonde en bang – soos een wat gaan rekspring vir die eerste keer. Ek wil net sien hoe sterk die rek is en dan gaan ek spring. As ek die rek reg is, en ek nie spring nie, is ek ‘n groot dwaas en verdien ek om in ‘n hamsterwieletjie te draf.









Kommentaar