Archive for Mei, 2008

30
May
08

Speeltyd!

So met die kykery na almal se foto’s uit hulle kleintyd het ek weer gedink aan hoe anders en eenvoudig ons kinderdae was.  Ons was ongekompliseerde kinders wat gelag en gespeel het nog regtig dom was toe ons skool toe gegeaan het.   Gits, ek was reeds ‘n volwasse vrou toe ons TV uitsendings gekry het – met ‘n toetsbeeld in die middag en ‘n vlaggie wat wapper aan die einde van die uitsending!

Op die foto is ek en my oudste broer, Aart,  en ons bure van destyds se twee dogters, Brenda en Lolla.  Aart sit voor en ek sit regs agter.  Die houtkrat waarin ons sit was ons kar.  In daardie kar het ons ver paaie gery.  Aart het bestuur, want al was hy die kleinste, was hy die man.   In ons klein wêreldjie op Rietfonteinromery het vrouens nie bestuur nie.

Ek en Aart het kort nadat ons Walvisbaai toe getrek het, vir ons ‘n tok-tokkie boerdery begin.  Natuurlik tot ergernis van my ma.  Daardie goggas het aanmekaar uit die kartondose probeer klim, die sand wat ons in die “plase” gesit het vir die tok-tokkies was die huis vol en die goed stink, maar sy het ons gelos om te speel.  Ek kan egter nie onthou wat op die einde van ons plase geword het nie.  Dit was seker deur ‘n “natuurramp” op twee bene uitgewis…

Ons kon ure buite speel met ons karretjies en plastiese plaasdiertjies.  Ons het paaie gebou en “lyndrade” gespan met vuurhoutjies en wol.  Ons het huise en plaasgeboue en krale gebou uit al wat ‘n stukkie afval was.  My ma het sulke dae nie van ons geweet nie. 

Dit was ook vir ons as kinders ‘n voorreg om in die parkie te kon gaan speel en ons het elke dag gevra en ons ma het elke dag ja gesê.  Dit was daardie jare nog veilig vir kinders om buite te speel en die parkie was reg oorkant die huis.  In daardie dae was die parke nog die dorp se trots en die swaaie, gly- en wipplanke is goed onderhou.  Daar het elke dag kinderlaggies in daardie parkie weerklink. 

Ek het mooi herinneringe van my kinderdae.  Ek wens so dat daar nie Sheldeans en Michaela’s hoef te wees nie.  En ek wens die parke word weer vol kinders wat weet hoe om te speel – sonder om ‘n selfoon in een hand vas te hou….

28
May
08

Kleintyd se Merk

Net soos met Sonkind ontwyk ‘n foto uit die era van matriek my.  Ek aanvaar onbenoemd haar tag en sit twee foto’s van my kleintyd hier….

Die eerste foto is op my eerste verjaarsdag geneem.  Ek was blykbaar glad nie beindruk met ‘n kamera nie.  Ook nie met die sjokoladekoek wat later aan my voorgesit is nie.  Hierdie foto is vir my spesiaal omdat dit deur my pa gebruik word as boekmerk in sy Bybel.  Ek het dit met sy laaste kuiertjie geskandeer.

 Die tweede foto is geneem to ek 4 jaar oud was.  My  bruin hare was blond teen daardie tyd.  Dit is seker  omdat ons feitlik altyd die hele dag buite gespeel het.  Kyk bietjie hoe skeef is daardie pophuisstoeltjie gesit!  Die voet makeer niks wat seep en water nie later reggemaak het nie.  Ek was darem baie vriendeliker met iemand agter ‘n kamera teen daardie tyd.  Altwee die foto’s is geneem in ons erf by die Rietfontein romery (tussen Otavi en Grootfontein).  Ek het mos al voorheen gesê ek is die melkman se kind….. 

Ek het op die foto afgekom en moet dit bysit net om te wys dat ek darem hier teen vyfjarige ouderdom goed kon lyk as ek vars uit die bad kom…. ons was oppad fliek toe of iets.  Op die foto is my oom en oudste broer by my.

 

27
May
08

Vloek van die Fiets

anatomy of a bicycleEk sal nooit vergeet hoe lekker dit was toe ek my swart dikwielfiets by my pa gekry het nie. Dit was die dag toe ons verder weg van die skool af getrek het. My ma het voldag gewerk en hy het die fiets vir my gekoop sodat ek gerieflik tussen die huis en skool kon beweeg vir na-uurse bedrywighede. Dit was regtig net ‘n funksionele fiets – die absolute basiese met praktiese dik wiele wat in Walvisbaai met sy sand van onskatbare waarde was. Dit was die deursnee fiets van die deursnee kind, maar vir my was dit ‘n “Rolls Royce”. Dit was ook nie lank voordat ek die amper drie kilometer tussen ons huis en die skool loshande kon aflê nie.

Nou, jare later, sit ek met die “Vloek van die Fiets” en ek begin onrustig voel. Dit is asof ‘n mag van soorte probeer keer of ‘n boodskap stuur…..

Ek het ‘n maand terug vir die Engelskind gehelp om ‘n fiets te koop vir dieselfde rede as wat ek myne gehad het – om gemaklik te beweeg tussen vriende en vir daardie na-uurse aktiwiteite wat so geskeduleer is dat dit te ver is om gou huis te loop. So ver was dit egter nog net een frustrasie op ‘n ander. Die ketting van die oorspronklike fiets het binne 500m van die huis af gebreek tydens die eerste rit. My seun was goed vies en het die fiets gaan omruil en “upsize”. Met daardie tweede fiets was daar nie ‘n vreeslike draai gery voordat die een pedaal probleme gegee het nie. Niks onoorbrugbaar nie, maar beslis ‘n slegte verwysing vir Raleigh.

Verlede week ry ‘n mannetjie met ‘n Vespa die fiets te pletter onder my seun se lyf. Hulle het mekaar kop-aan-kop ontmoet op ‘n blinde hoek vir altwee – op ‘n sypaadjie. Om skuld te bepaal gaan bietjie moeilik wees, maar die leun bietjie meer na die Vespa-mannetjie se kant toe. Ek is dankbaar die engelskind het net met ‘n blou kol en ‘n geskeurde nael uit die ongeluk gekom. Die fiets was ‘n ander storie. Die vurk het morsaf gebreek neffens die stuurstang en die voorwiel is onherstelbaar geknak. Daar lê Die Fiets toe in drie stukke; net aanmekaar gehou deur ‘n spul kabels. En die Engelskind, wat nooit vloek nie, sukkel om nie te sê wat hy sekerlik dink nie.

In plaas daarvan om die ding net te gaan ingee dat iemand iewers hom regmaak, saal ek toe die naweek die wilde perd op om ‘n vurk en voorwiel en dies meer te gaan koop sodat dierbare neef Jannie die ding weer in ‘n lopende toestand kan kry. In die grote Kaap, en veral Tygervallei waar daar sommer twee super fietswinkels bymekaar is, het ek van bakboord na stuurboord gery vir daardie spesifieke vurk. My hele Saterdag en ‘n kwart tenk brandstof was daaraan toegewy. Die wat weet sal saamstem dat ek ook maar lekker stupid was, want in Canal Walk, wat feitlik op my voorstoep is, is ‘n fietswinkel met alles én met ‘n werkswinkel. Dit is ook waar ek die laaste onderdeel gekry het. Daardie onderdeel het maar R4.50 gekos terwyl ek R6.00 vir die parkering moes opdok.

Nou kyk, toe dit uitkom dat die Engelskind die verkeerde grootte vurk gevat het, het ek gevoel ek kon ontplof. Dit is toe dat ek besluit het dat daar ‘n vloek op daardie fiets moet wees, want dit is nou al amper ‘n maand wat die sage van Die Fiets aan die gang is en as daar meer as 10km gery is met die simpel ding sal ek verbaas wees. Ek het gister die vurk omgeruil en die goed by neef Jannie gaan aflaai en nog nie gebel om te hoor of die fiets klaar is nie. Ek wens daardie fiets eintlik stilletjies weg. As dit nie was dat baie van die Engelskind se spaargeldjies daarin is nie het ek plan gemaak. Hopenlik is ek net simpel en sal alles nou vinnig uitgesorteer wees en die Engelskind sy wiele hê.  Dan sal dit seker elke oggend reën…. hy ry nie in reënweer met die fiets skool toe nie….. dit is nou as die simpel ding rybaar is nie….

23
May
08

Okanduka Roep

My neef se beroep is in party mense se oë wreed en in ander s’n opwindend.  Wat is jou mening oor trofeejag?

Ek is een van die wat dink dit is opwindend en ek wil ook gaan  grootwild jag – dit is iets wat beslis op my “bucket-list” is! 

As jy wil kan jy inskryf om plek vir twee te wen op een van die mooste jagplase in Namibia.   Helgaard en Christine sal jou met die beste Namibiese gasvryheid ontvang.  Die wat nie aan die lotery wil deelneem nie, kan altyd maar net ‘n plekkie bespreek.  Die skakels sal jou na die engelse deel van die plaas se webtuiste nee – daar is natuurlik vir Birgit duits ook… hoe dan anders.

Hier is Helgaard met die soort kat wat ek wil gaan skiet….

 Update….

Ek het ‘n poskaart uit Duitsland ontvang wat my nommer vir die trekking van die wenner van die besoek aan die jagplaas bevestig.  Die trekking vind op 30 Junie 2008 plaas…. wikkel as jy nog wil inskryf!

21
May
08

Ek spring …. met ‘n whooohaaaa!

Ek het geteken.  Ek het kennis gegee.  Vanaf die 1ste Julie is ek nie meer ‘n PA nie, maar ‘n BDC (in Engels; ek dink dit is BOK in Afrikaans).  Business Development Consultant. 

As dit dus stil raak hier rond…. dan is ek BESIG.  Daar is baie om te leer en baie om te doen.  Ek voel soos een wat wag in die wegspringblokke.  Kom verby Junie!

 

19
May
08

Die ander plaag….

Ek wou eers ‘n lang kommentaar op Anja se stukkie genaamd Freedom se Exodus geplaas het. Ek dink egter dat my familie in Nederland seker al kennis geneem het van die xenofobiese gebeure hier en ek wil sommer bietjie met hulle ook gesels….

Die hele ding laat mens verward voel. Ek verafsku geweld en is absoluut geskok oor wat aangaan. Maar…. is die mense wat oorgegaan het tot hierdie geweld nie net besig om te baklei vir oorlewing op ‘n ou bekende en “primitiewe” of tipies Afrika manier nie? Het hulle beskaafd hulp gevra en dit nie gekry nie? Hulle gaan natuurlik ook op die tipiese Afrika manier weer heeltemal oorboord en raak totaal bossies…. of was hulle ooit regtig anders?

Verstaan mooi, ek veroordeel dit wat aangaan ten sterkste. Ek het egter gemengde emosies oor die hele situasie.

Ek is bekommerd dat ons land, ‘n ontwikkelende land wat reeds ekonomies sukkel, nie die vermoë of die drakrag het om al hierdie mense uit ander Afrika-lande te akkommodeer nie. Ek wonder hoeveel “vlugtelinge” ons reeds akkommodeer – ten koste van boorlinge. Ek wonder hoeveel dra hierdie “vlugtelinge” by tot die statistieke van misdaad en werkloosheid. Ek wonder hoekom dit voel asof daar nie met omsigtigheid ordentlike immigrasiebeheer uitgeoefen word nie….

Hoeveel mense is tans in SA en hoeveel was hier in 1994? Hoekom voel ons land dan deesdae so oorvol?

Ek sien Frans Cronjé sê dat die drie tot vyf miljoen buitelanders ‘n positiewe bydrae tot die ekonomie maak omdat hulle verbruikers is en ‘n massiewe mark geskep het. Is dit so eenvoudig? Vra hulle nie meer as wat hulle gee nie? Daar moet in hulle basiese behoeftes voorsien word; lopende water, elektrisiteit, behuising, basiese mediese sorg. And there is only so much to go around…. Om die ekonomie te laat groei moes hierdie buitelanders iets saam met hulle ingebring het…. meeste van hulle kom hier aan met net die klere aan hulle lywe en ‘n bondeltjie onder die arm. Ek het nooit ekonomie gestudeer nie, maar ek kan nie sien hoe iets plus niks meer as iets kan raak nie. Jammer Frans, kan ons bietjie iewers gaan koffie drink dat jy die een mooi stadig vir my kan verduidelik? Hulle Spaza shops doen dalk beter as die boorlinge s’n, maar ek wonder of dit nie dalk eerder die onder die toonbank bedryf is wat die klandisie lok nie. Ek wil ook weet hoe kry Jan Taks sy deel uit hierdie mense wat so “fluks bydra tot ons ekonomie”.

Aan die einde van die dag word Afrika doodgewurg van die Sahara af suid…. soos deur springkane…. en nou is daar net see oor in die pad…. en dit raak ‘n kwessie van “eat or be eaten”…

Meeste van ons is net te beskaaf om te baklei soos wat daar nou baklei word. Ons wag vir die regering om iets te doen. Ons sal met die volgende verkiesing hoopvol kruisies gaan trek vir vernuwing en verbetering en verandering en dan weer wag. Wag dat verkiesingbeloftes nagekom word; geduldig wag en bid dat ons gespaar bly om weer ‘n kruisie te kan trek. Ons sal beskaafd bly glo in demokrasie en ons sal bly glo dat Suid-Afrika die voorbeeld van sukses vir die res van Afrika kan wees. Want ons is lief vir hierdie land suid van die Sahara.

En so sal die res van Afrika bly dink dat ons in die land van melk en heuning woon en dat die fonteintjie nooit kan opdroog nie en so sal die mense bly suid trek omdat daar “winter” in hul eie lande is. Ongelukkig bring hulle daardie winter saam met hulle. Daar is mense wat nie in betontorings en agter hoë mure woon nie; mense wat sien hoe hulle kinders honger word en koud kry en wat mal word van magteloosheid en dan knopkieries en motorbande neem en oorlog maak…

Minder as ‘n jaar terug het ons geskok en bekommerd e-posse gelees en aangestuur oor “nag van die lang messe”. Nou kyk nou. Dit is nag. Maar nie die nag van die lang messe nie. Nog nie.

17
May
08

**Sug**

Ai tog, Stormers, ai! Mooi Sharkies – gaan haal nou die blink dingetjie vir SA. Volgende jaar, Jean?

17
May
08

Altyd tyd vir Koffie

My inboksie se onderwerplysie wriemel met “FWD” soos wat ek e-posse ontvang wat van oral aangestuur word.  Soms kry ek tot vervelens toe dieselfde e-pos oor en oor.  Ek stuur min aan en verkies om, met WordPress se vrygewigheid met gratis spasie, dit wat regtig vir my prikkel, hier te bêre vir anderdag se weer lees.

Ek het gaan “google” en verskeie weergawes van die stukkie wysheid hieronder ontdek…. selfs iemand wat beweer dit oorspronklik geskryf is deur Laura Bankston, Anchorage, Alaska, VSA.  Dit lyk egter vir my dat sy ook maar net die FWD-pos “geblog” het.  

Dit het nietemin ‘n les in wat mens so maklik vergeet en soos ek maar maak, bêre ek dit hier sodat ek weet waar om dit te soek as ek dit weer nodig kry.  Vir my is dit tyd vir koffie saam met iemand spesiaals – daardie vriendin wat te veel afgeskeep word in die naam van werk en ander “sand”.

The Mayonnaise Jar

When things in your life seem
Almost too much to handle,
When 24 Hours in a day is not enough,
Remember the mayonnaise jar
And 2 cups of coffee.
 
A professor stood before his philosophy class and had some items in front of him. When the class began, wordlessly, he picked up a very large and  empty mayonnaise jar and proceeded to fill it with golf balls.
 
He then asked the students if the jar was full. They agreed that it was.
 
The professor then picked up a box of pebbles and poured them into the jar.
 
He shook the jar lightly. The pebbles rolled into the open areas between the golf balls.

He then asked the students again if the jar was full. They agreed it was.
 
The professor next picked up a box of sand and poured it into the jar. Of course, the sand filled up everything else. He asked once more if the jar was full.

The students responded with an unanimous “yes.”

The professor then produced two cups of coffee from under the table and poured the entire contents Into the jar, effectively filling the empty space between the sand.

The students laughed.

“Now,” said the professor, as the laughter subsided, “I want you to recognize that this jar represents your life. The golf balls are the important things – God, family, children, health, friends, and favorite passions – things that if everything else was lost and only they remained, your life would still be full.
 
The pebbles are the other things that matter like your job, house, and car.  The sand is everything else – the small stuff.

“If you put the sand into the jar first,” he continued, “there is no room for
the pebbles or the golf balls.  The same goes for life.  If you spend all your time and energy on the small stuff, you will never have room for the things that are important to you.
 
So…
 
Pay attention to the things that are critical to your happiness.  Play with your children.  Take time to get medical checkups.  Take your partner out to dinner.  Play another 18.
 
There will always be time to clean the house and fix the disposal.  “Take care of the golf balls first – the things that really matter.  Set your priorities.  The rest is just sand.”
 
One of the students raised her hand and inquired what the coffee represented.

The professor smiled. “I’m glad you asked”.  “It just goes to show you that no matter how full your life may seem, there’s always room for a couple of cups of coffee with a friend.”

15
May
08

Neptunus Rex en Cristina D

My Pa het vanoggend van die Cristina D af laat weet dat hulle vanaand oor die ewenaar gaan vaar en hy het gewonder of Neptunus aan boord sal kom…..

Ek het nie  die storie geken nie en  het toe gaan soek.  Ek dink nie met net sewe man aan boord sal Neptunus besoek aflê nie.  My pa moet in elk geval reeds ‘n “Trusty Shellback” wees, want hy het in 1953 suid oor die ewenaar gevaar toe hy en sy gesin per boot na Suider Afrika gereis het en as ek reg onthou het hy in 1981 met ‘n boot gevaar van Nederland af.  Ek wonder nou hoe naby hy aan “Emerald Shellback” gekom het.  Met die vaart in 1953 sou die skipper maklik vir die Greenwich lyn kon mik met die kruising.  Ek sal hom tog vra….

Die “line-crossing” seremonie is meer van toepassing op oorlogskepe en van die mooiste amptelike sertifikate word uitgereik (kliek gerus en lees die besondere bewoording).  Ek het ook afgekom op blogs van mense wat op plesierbote en ander maritieme vaartuie  aan seremonies deelgeneem het. 

Ek het hierdie uit Wikipedia gehaal…

The English-speaking seafaring tradition maintains that all sailors who cross the equator during a nautical voyage must undergo rites of passage and elaborate rituals initiating them into The Solemn Mysteries of the Ancient Order of the Deep. These rituals date back to the Middle Ages, though the current ceremonies are most likely derived from Viking traditions. Those who have never “crossed the line” are derisively referred to as “pollywogs” or simply “slimy wogs”. Upon entering the domain of His Royal Majesty, Neptunus Rex, all wogs are subject to various initiation rituals performed by those members of the crew who have made the journey before. Upon completion of the initiation ceremony, the wogs are then known as “Trusty Shellbacks”. If the crossing of the equator is done at the 180th meridian, the title of “Golden Shellback” is conferred, recognizing the simultaneous entry into the realm of the Golden Dragon. If the crossing occurs at the Greenwich or Prime Meridian, the sailor is considered to be an “Emerald Shellback”.

I wish you safe passage,  Trusty Shellback Oupa Henk!  There are only a few weeks left to 11 June…

14
May
08

Dit is nou 1, 2, 3, spring….

WhichWayDit is waar ek vandag staan…. die een kant is die “road less traveled” of in my geval – “never”… en aan die ander kant is die pad waarop ek nou is wat die pad na nêrens is nie.  Op my huidige pad het ek die plafon in my beroep al lankal bereik en is daar net geen meer uitdagings of nuwe doelwitte nie.  Die ander pad is een helse groot uitdaging met groot belonings – mits ek die pyp rook.  Ek is opgewonde soos ‘n kind, maar my gereserveerde skadukant is versigtig en sien bobbejane agter elke bult.  ‘n Duisend “what if” spoke maal in my kop rond.  Ek sit en wag nou vir die aanbodbrief en dan is dit tyd om te besluit en te teken.  As ek geteken het en die kennistydperk begin, kan ek nie weer op die pad terugstap waarop ek nou is nie, want my plaasvervanger moet ook kennis gee.  Hierdie huidige pad is een wat nêrens heen gaan nie en as ek eerlik met myself wil wees, waar ek vir elke twee treë vorentoe, een agtertoe gee – al lankal.  Dit is die bekendheid waarin ek gemaklik geraak het en ‘n bewuste blindheid wat my nie laat agtergekom het dat ek eintlik stadig besig is om te verwelk nie.  Ek is soos ‘n plant wat in die kas gesit is en nie kan groei nie, maar stilletjies versmoor.  Ek is opgewonde en bang – soos een wat gaan rekspring vir die eerste keer.  Ek wil net sien hoe sterk die rek is en dan gaan ek spring. As ek die rek reg is, en ek nie spring nie, is ek ‘n groot dwaas en verdien ek om in ‘n hamsterwieletjie te draf.

Kom nou briefie! 

As julle een moerawiesie wooohaaaa hoor, weet dan dat ek spring!

*******************************************************************************

Iemand het vanoggend vir my gesê “Oefen solank jou vlerke .. jy gaan nog hoog sweef as jy eers jou nessie verlaat.”  Ek gaan haar nie teleurstel nie.  Dankie dat jy in my glo!




Sew Pretty Homestyle

Kaapstad, Suid-Afrika

Dis ek die…

Kalender

Mei 2008
M T W T F S S
« Apr   Jun »
 1234
567891011
12131415161718
19202122232425
262728293031  

Argiewe

MY GUNSTELINGE

RSS BB’s Blog

RSS Boendoe

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Da Mario

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Die Pienk Zuit

RSS Ding se Dinge

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Gert Gariep

RSS Karin se Dink en Droomplek

  • Fin September 26, 2009

RSS Kokkewiet

  • ?? Oktober 21, 2009

RSS Louisa

RSS Oopkop Anja

RSS Pikkelik se Blik

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Wipneus

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Woestynsand

RSS Wosonki

RSS Zee

Van Waar…..

SA Top Sites

Statistiek

  • 42,110 Loere
Jo-Ann Schou's Facebook profile

Bookmark

Bookmark and Share