Dit is waar ek vandag staan…. die een kant is die “road less traveled” of in my geval – “never”… en aan die ander kant is die pad waarop ek nou is wat die pad na nêrens is nie. Op my huidige pad het ek die plafon in my beroep al lankal bereik en is daar net geen meer uitdagings of nuwe doelwitte nie. Die ander pad is een helse groot uitdaging met groot belonings – mits ek die pyp rook. Ek is opgewonde soos ‘n kind, maar my gereserveerde skadukant is versigtig en sien bobbejane agter elke bult. ‘n Duisend “what if” spoke maal in my kop rond. Ek sit en wag nou vir die aanbodbrief en dan is dit tyd om te besluit en te teken. As ek geteken het en die kennistydperk begin, kan ek nie weer op die pad terugstap waarop ek nou is nie, want my plaasvervanger moet ook kennis gee. Hierdie huidige pad is een wat nêrens heen gaan nie en as ek eerlik met myself wil wees, waar ek vir elke twee treë vorentoe, een agtertoe gee – al lankal. Dit is die bekendheid waarin ek gemaklik geraak het en ‘n bewuste blindheid wat my nie laat agtergekom het dat ek eintlik stadig besig is om te verwelk nie. Ek is soos ‘n plant wat in die kas gesit is en nie kan groei nie, maar stilletjies versmoor. Ek is opgewonde en bang – soos een wat gaan rekspring vir die eerste keer. Ek wil net sien hoe sterk die rek is en dan gaan ek spring. As ek die rek reg is, en ek nie spring nie, is ek ‘n groot dwaas en verdien ek om in ‘n hamsterwieletjie te draf.
Kom nou briefie!
As julle een moerawiesie wooohaaaa hoor, weet dan dat ek spring!
*******************************************************************************
Iemand het vanoggend vir my gesê “Oefen solank jou vlerke .. jy gaan nog hoog sweef as jy eers jou nessie verlaat.” Ek gaan haar nie teleurstel nie. Dankie dat jy in my glo!









Kommentaar