19
May
08

Die ander plaag….

Ek wou eers ‘n lang kommentaar op Anja se stukkie genaamd Freedom se Exodus geplaas het. Ek dink egter dat my familie in Nederland seker al kennis geneem het van die xenofobiese gebeure hier en ek wil sommer bietjie met hulle ook gesels….

Die hele ding laat mens verward voel. Ek verafsku geweld en is absoluut geskok oor wat aangaan. Maar…. is die mense wat oorgegaan het tot hierdie geweld nie net besig om te baklei vir oorlewing op ‘n ou bekende en “primitiewe” of tipies Afrika manier nie? Het hulle beskaafd hulp gevra en dit nie gekry nie? Hulle gaan natuurlik ook op die tipiese Afrika manier weer heeltemal oorboord en raak totaal bossies…. of was hulle ooit regtig anders?

Verstaan mooi, ek veroordeel dit wat aangaan ten sterkste. Ek het egter gemengde emosies oor die hele situasie.

Ek is bekommerd dat ons land, ‘n ontwikkelende land wat reeds ekonomies sukkel, nie die vermoë of die drakrag het om al hierdie mense uit ander Afrika-lande te akkommodeer nie. Ek wonder hoeveel “vlugtelinge” ons reeds akkommodeer – ten koste van boorlinge. Ek wonder hoeveel dra hierdie “vlugtelinge” by tot die statistieke van misdaad en werkloosheid. Ek wonder hoekom dit voel asof daar nie met omsigtigheid ordentlike immigrasiebeheer uitgeoefen word nie….

Hoeveel mense is tans in SA en hoeveel was hier in 1994? Hoekom voel ons land dan deesdae so oorvol?

Ek sien Frans Cronjé sê dat die drie tot vyf miljoen buitelanders ‘n positiewe bydrae tot die ekonomie maak omdat hulle verbruikers is en ‘n massiewe mark geskep het. Is dit so eenvoudig? Vra hulle nie meer as wat hulle gee nie? Daar moet in hulle basiese behoeftes voorsien word; lopende water, elektrisiteit, behuising, basiese mediese sorg. And there is only so much to go around…. Om die ekonomie te laat groei moes hierdie buitelanders iets saam met hulle ingebring het…. meeste van hulle kom hier aan met net die klere aan hulle lywe en ‘n bondeltjie onder die arm. Ek het nooit ekonomie gestudeer nie, maar ek kan nie sien hoe iets plus niks meer as iets kan raak nie. Jammer Frans, kan ons bietjie iewers gaan koffie drink dat jy die een mooi stadig vir my kan verduidelik? Hulle Spaza shops doen dalk beter as die boorlinge s’n, maar ek wonder of dit nie dalk eerder die onder die toonbank bedryf is wat die klandisie lok nie. Ek wil ook weet hoe kry Jan Taks sy deel uit hierdie mense wat so “fluks bydra tot ons ekonomie”.

Aan die einde van die dag word Afrika doodgewurg van die Sahara af suid…. soos deur springkane…. en nou is daar net see oor in die pad…. en dit raak ‘n kwessie van “eat or be eaten”…

Meeste van ons is net te beskaaf om te baklei soos wat daar nou baklei word. Ons wag vir die regering om iets te doen. Ons sal met die volgende verkiesing hoopvol kruisies gaan trek vir vernuwing en verbetering en verandering en dan weer wag. Wag dat verkiesingbeloftes nagekom word; geduldig wag en bid dat ons gespaar bly om weer ‘n kruisie te kan trek. Ons sal beskaafd bly glo in demokrasie en ons sal bly glo dat Suid-Afrika die voorbeeld van sukses vir die res van Afrika kan wees. Want ons is lief vir hierdie land suid van die Sahara.

En so sal die res van Afrika bly dink dat ons in die land van melk en heuning woon en dat die fonteintjie nooit kan opdroog nie en so sal die mense bly suid trek omdat daar “winter” in hul eie lande is. Ongelukkig bring hulle daardie winter saam met hulle. Daar is mense wat nie in betontorings en agter hoë mure woon nie; mense wat sien hoe hulle kinders honger word en koud kry en wat mal word van magteloosheid en dan knopkieries en motorbande neem en oorlog maak…

Minder as ‘n jaar terug het ons geskok en bekommerd e-posse gelees en aangestuur oor “nag van die lang messe”. Nou kyk nou. Dit is nag. Maar nie die nag van die lang messe nie. Nog nie.


5 Responses to “Die ander plaag….”


  1. May 19, 2008 at 6:40 pm

    Ek kan weereens net sê dit is so sad. Ek weet self nie waar my simpatie lê nie, maar dit weet ek, definitief NIE by ons regering nie. Ai, ai, ai…. :-(

  2. May 20, 2008 at 8:13 am

    Gisteraand op die nuus het een van die “immigrante” gesê dat hulle eerder die gevare in hul eie land sal trotseer as om hier te bly en die aanvalle hier deur te moet gaan. Dis baie hartseer en ek is nie seker of daar regtig ‘n oplossing is nie. :(

  3. May 20, 2008 at 10:17 am

    Ek het hierdie ding lankal voorspel. Dis die regering se skuld, hulle lê slap. Alles ruk hand uit en hulle gooi net handjies in die lug… ê dis die vorige regering se skuld. Dit help nie om die skuld altyd te verplaas nie. Spring ten minste aan die werk en doen iets. Mense kry swaar en word vermoor.

    Al wat ek kan sê: Jy minister of president doen jou werk waarvoor jy betaal word.

  4. 4 BB
    May 20, 2008 at 10:46 am

    Aan die einde van die dag word Afrika doodgewurg van die Sahara af suid…. soos deur springkane…. en nou is daar net see oor in die pad…. en dit raak ‘n kwessie van “eat or be eaten”…
    Dis scary om die minste daarvan te sê!! Maar dis presies hoe dit is – en dit loop in siklusse (my skoonpa het destyds met die verkiesing gesê: Afrika doen dinge in 25 jaar siklusse – kyk noord, my kind, dan kan jy maar begin tel vir die volgende suidelike buurland. Dis net ons wat nie daardie soort bure het nie…

  5. May 20, 2008 at 2:14 pm

    Ek wil met jou saamstem.
    (ek wens net dat daar ook so gefokus word op al die plaasmoorde/huismoorde soos nou die geval is met die xenofobiese gebeure – selfs internasionaal)


Leave a Reply




Sew Pretty Homestyle

Kaapstad, Suid-Afrika

Kalender

May 2008
M T W T F S S
« Apr   Jun »
 1234
567891011
12131415161718
19202122232425
262728293031  

Argiewe

MY GUNSTELINGE

RSS Ding se Dinge

RSS Oopkop Anja

RSS Wipneus

RSS Woestynsand

RSS Wosonki

RSS Zee

Van Waar…..

SA Top Sites

Statistiek

  • 38,668 Loere
Jo-Ann Schou's Facebook profile

Bookmark

Bookmark and Share