Archive for Mei 27th, 2008

27
May
08

Vloek van die Fiets

anatomy of a bicycleEk sal nooit vergeet hoe lekker dit was toe ek my swart dikwielfiets by my pa gekry het nie. Dit was die dag toe ons verder weg van die skool af getrek het. My ma het voldag gewerk en hy het die fiets vir my gekoop sodat ek gerieflik tussen die huis en skool kon beweeg vir na-uurse bedrywighede. Dit was regtig net ‘n funksionele fiets – die absolute basiese met praktiese dik wiele wat in Walvisbaai met sy sand van onskatbare waarde was. Dit was die deursnee fiets van die deursnee kind, maar vir my was dit ‘n “Rolls Royce”. Dit was ook nie lank voordat ek die amper drie kilometer tussen ons huis en die skool loshande kon aflê nie.

Nou, jare later, sit ek met die “Vloek van die Fiets” en ek begin onrustig voel. Dit is asof ‘n mag van soorte probeer keer of ‘n boodskap stuur…..

Ek het ‘n maand terug vir die Engelskind gehelp om ‘n fiets te koop vir dieselfde rede as wat ek myne gehad het – om gemaklik te beweeg tussen vriende en vir daardie na-uurse aktiwiteite wat so geskeduleer is dat dit te ver is om gou huis te loop. So ver was dit egter nog net een frustrasie op ‘n ander. Die ketting van die oorspronklike fiets het binne 500m van die huis af gebreek tydens die eerste rit. My seun was goed vies en het die fiets gaan omruil en “upsize”. Met daardie tweede fiets was daar nie ‘n vreeslike draai gery voordat die een pedaal probleme gegee het nie. Niks onoorbrugbaar nie, maar beslis ‘n slegte verwysing vir Raleigh.

Verlede week ry ‘n mannetjie met ‘n Vespa die fiets te pletter onder my seun se lyf. Hulle het mekaar kop-aan-kop ontmoet op ‘n blinde hoek vir altwee – op ‘n sypaadjie. Om skuld te bepaal gaan bietjie moeilik wees, maar die leun bietjie meer na die Vespa-mannetjie se kant toe. Ek is dankbaar die engelskind het net met ‘n blou kol en ‘n geskeurde nael uit die ongeluk gekom. Die fiets was ‘n ander storie. Die vurk het morsaf gebreek neffens die stuurstang en die voorwiel is onherstelbaar geknak. Daar lê Die Fiets toe in drie stukke; net aanmekaar gehou deur ‘n spul kabels. En die Engelskind, wat nooit vloek nie, sukkel om nie te sê wat hy sekerlik dink nie.

In plaas daarvan om die ding net te gaan ingee dat iemand iewers hom regmaak, saal ek toe die naweek die wilde perd op om ‘n vurk en voorwiel en dies meer te gaan koop sodat dierbare neef Jannie die ding weer in ‘n lopende toestand kan kry. In die grote Kaap, en veral Tygervallei waar daar sommer twee super fietswinkels bymekaar is, het ek van bakboord na stuurboord gery vir daardie spesifieke vurk. My hele Saterdag en ‘n kwart tenk brandstof was daaraan toegewy. Die wat weet sal saamstem dat ek ook maar lekker stupid was, want in Canal Walk, wat feitlik op my voorstoep is, is ‘n fietswinkel met alles én met ‘n werkswinkel. Dit is ook waar ek die laaste onderdeel gekry het. Daardie onderdeel het maar R4.50 gekos terwyl ek R6.00 vir die parkering moes opdok.

Nou kyk, toe dit uitkom dat die Engelskind die verkeerde grootte vurk gevat het, het ek gevoel ek kon ontplof. Dit is toe dat ek besluit het dat daar ‘n vloek op daardie fiets moet wees, want dit is nou al amper ‘n maand wat die sage van Die Fiets aan die gang is en as daar meer as 10km gery is met die simpel ding sal ek verbaas wees. Ek het gister die vurk omgeruil en die goed by neef Jannie gaan aflaai en nog nie gebel om te hoor of die fiets klaar is nie. Ek wens daardie fiets eintlik stilletjies weg. As dit nie was dat baie van die Engelskind se spaargeldjies daarin is nie het ek plan gemaak. Hopenlik is ek net simpel en sal alles nou vinnig uitgesorteer wees en die Engelskind sy wiele hê.  Dan sal dit seker elke oggend reën…. hy ry nie in reënweer met die fiets skool toe nie….. dit is nou as die simpel ding rybaar is nie….




Sew Pretty Homestyle

Kaapstad, Suid-Afrika

Dis ek die…

Kalender

Mei 2008
M T W T F S S
« Apr   Jun »
 1234
567891011
12131415161718
19202122232425
262728293031  

Argiewe

MY GUNSTELINGE

RSS BB’s Blog

RSS Boendoe

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Dellie se Dinge

RSS Die Pienk Zuit

RSS Ding se Dinge

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Gert Gariep

RSS Karin se Dink en Droomplek

  • Fin September 26, 2009

RSS Kokkewiet

  • ?? Oktober 21, 2009

RSS Wipneus

RSS Woestynsand

RSS Wosonki

RSS Zee

Van Waar…..

SA Top Sites

Statistiek

  • 41,892 Loere
Jo-Ann Schou's Facebook profile

Bookmark

Bookmark and Share