Bid jou dit aan… iemand na aan jou waarvoor jy baie lief is, is in ‘n koma en word breindood verklaar. Die dokters reken daar is absoluut geen kans op enige herstel nie en dat dit slegs die masjiene is wat die persoon se liggaam aan die gang hou. Jy word gevra om toestemming te gee om die masjiene af te sit. Dink jy dat jy dit sal kan doen? Ek weet ek sal sukkel om die besluit te neem en al sou ek ja sê, sal ek vir altyd wonder of ‘n wonderwerk nie tog kon gebeur het nie. Dit is hoekom ek besluit het om ‘n lewende testament te onderteken sodat daardie besluit nooit deur my geliefdes geneem hoef te word nie.
Die bewoording is die volgende:
Wanneer die tyd aanbreek dat ek nie meer kan deel in besluite oor my eie toekoms nie, moet dié verklaring beskou word as ‘n testament van my wense.
As daar geen redelike vooruitsig is op my herstel van liggaamlike siekte nie of as verswakking verwag word wat my ernstige ellende sal besorg of my onbevoeg sal maak vir ‘n rasionele bestaan, versoek ek om toegelaat te word om te sterf en nie kunsmatig aan die lewe gehou te word nie en dat ek die nodige medikasie sal ontvang wat my vry van pyn en angs sal hou, selfs al sou dit my dood verhaas.
Dat alle lewensbehoudende stelsels soos ventilators, respirators of enige ander gesofistikeerde en moontlik duur mediese tegnieke met groot omsigtigheid gebruik sal word om die lewe te behou in die geval waar daar ‘n redelike kans op herstel bestaan, en nie om die oomblik van dood uit stel nie en sodoende die doodstryd en angs uit te rek waar daar geen kans op herstel bestaan nie.
Het jy so iets en hoe voel jy daaroor? Sal jy jou bejaarde ouer dit gun om in bogenoemde omstandighede met waardigheid te sterf of sal jy bly hoop ten spyte van sy of haar wense?
Ek het baie seker gemaak dat my naastes almal weet van my wense. Ek voel hieroor net so sterk as wat ek oor verassing voel. Ek verkies dat enige geld wat in my boedel mag wees, eerder na my naasbestaandes moet gaan as om vermors te word op futiele pogings om my kunsmatig aan die lewe te hou terwyl daar min of geen hoop is nie.










Ek stem saam, ek wil nie met masjiene aan die lewe gehou word nie.
Hoop nie ek kom ooit in my lewe voor so besluit te staan nie. Wanneer dit by mens se geliefdes kom, sal dit maar moeilik gaan. Jy sal altyd bly hoop op ‘n wonderwerk, dis maar menslik.
Ek wonder en dink ook altyd oor die goed…..
Hi
Ek het vanoggend 12/10/09 op RSG se “sakpas” gehoor, hulle praat van die lewende testament, en ek het lankal vir my man gese ek wil NIE aan die lewe gehou word deur masjiene NIE. Ja ek stem saam vir ons naasbestaandes is dit die swaarste besluit ooit, maar vir hom en my 2 dogters sal ek die besluit maak, sodat hy hulle kan versorg in die moeilike tyd en aan gaan met hulle LEWE, want daarna kom die begrafnis ook nog. Ek wil graag begrawe word, en ek is nogal bang om dood te gaan, maar ‘n mens moet seker reg lewe dan is dit nie nodig nie. Bly maar nog ‘n vreesbevange onderwerp.
Ek voel ook ‘n man en vrou moet hieroor praat sodat elkeen weet wat die ander een wil he.
Estelle
Ek kan nie meer met jou saamstem nie!!! Ek wil leef, nie aan die lewe gehou word nie. Dit is ‘n belofte wat ek en Mynick ook aan mekaar gemaak het, (ook op skrif) en ons sal ons kinders verseker ook daarby intrek as hulle groot genoeg is. Heng die lewe is swaar genoeg sonder om dit deur sulke dinge swaarder te maak!
Ja ek dink ook dit is ‘n goeie idee om self vooraf te se wat jy wil he.
Ek sal dit ook so 3/4 dae gee.
As ek kan raad gee, vra dat ‘n EEG gedoen moet word wat sal bepaal/bewys dat jy wel breindood is. Dit is die enigste manier om wel te weet of die brein nog “seine” stuur. Sodat dit nie aan subjektiewe oordeel oorgelaat word nie, maar wel aan ‘n toets.
Indien ek die uitslag van ‘n EEG voor my het, sal ek wel na ‘n paar dae so ‘n besluit kan maak, hoe hartseer ookal.
Ek voel presies soos jy hieroor, en ook dat ek veras wil word. Ek dra boonop ‘n Orgaanskenkings kaartjie met my saam en in my ID-boek en op my lisensiekaart is ‘n plakkertjie dat ek ‘n orgaanskenker is.
Enige en alle organe wat bruikbaar is, kan geskenk word. My familie weet hoe ek hieroor voel en respekteer my keuse. Ek mag ook nie met masjiene aan die lewe gehou word nie, maar jy het my nou ‘n goeie idee gegee met hierdie lewende testament. en minste hoef niemand dan daardie moeilike besluit te neem nie.
Vir my is die liggaam net ‘n lee dop na die dood. “Do not stand at my grave and cry,
I am not there. I did not die.”
Oor die kwessie van kunsmatig aan die lewe gehou word – ek voel soos julle almal daaroor. Ek weet dat my ma van my sal verwag om seker te maak dat sy nie kunsmatig aan die lewe gehou mag word nie en ek sal aan haar wens voldoen. Sy het my ook gese wat sy vir die roudiens en verassing wil he. Ek sal haar nie help om selfmoord (genadedood) te pleeg nie. Sy beter vooraf weet om dit nie eers van my te vra nie. Daar is geen manier dat sy my daarin sal kan manipuleer nie.
Omgekeerd- as ek die emmer voor my ma skop, dan moet sy besluit wat word van my stoflike oorskot. Dit is waar die probleem inkom, sy sal weier dat my organe geskenk mag word. Sy glo nie daaraan nie. Dus is ek ‘n orgaanskenker, maar dit beteken niks omdat my ma nooit haar toestemming sal gee nie.
Ek wil my eie begrafnisbrief skryf, maar is erg bygelowig daarvoor. Ek soek nie ‘n generiese begrafnisbrief nie, maar om nou al een te skryf is soos om die dood aan te roep.
Om geliefdes kunsmatig aan die lewe te hou, kan beteken dat ‘n ander iemand wat dalk kan herstel nooit daardie kans sal kry nie. Hoekom kan dokters nie daardie keuse maak nie? Hoekom moet die familielede die besluit neem?
Ek dink die rede hoekom dokters nie die besluit mag neem is, is net omrede daar probleme na die tyd kan kom net hofsake. Dat die familie kan omdraai en se: Die persoon as nie werklik dood nie, en jy het die masjiene afgesit, om die organe te kry. so die moeilike verantwoordelikheid word op die familie gesit. Tuwwe een.
Indien ‘n mens se testament bepaal wat gedoen moet word, “living will” en jy is bo 21, moet hulle doen wat daarin staan, of jy ma of wie ookal nie daarvan hou nie. Dus as jy besluit om jou organe te skenk Adrie, kan jy.
Adrie, shame man. Ek sal nie van ‘n dokter verwag om so iets op sy/haar gewete te dra nie. Die besluit moet beslis by die naasbestaandes lê.
Joann, jy’s reg en dis ‘n goeie stipulasie. Ek kan nie onthou of myne dit in het nie. Tyd om weer die ou testamentjie nader te trek. Nooit lekker om oor hierdie goed te dink nie. Veral nie die gedeelte in die testament oor wie ons kindertjies moet groot maak, sou iets met my en liefie gebeur nie (maar niks sal met ons gebeur nie
…positiewe denke jy weet).
Skoorlief het so ‘n testament.
Ek wil ook nie le en masjiene werk gee nie. En kragmors!
Jong, ek kry nog steeds teëstand oor die verassingstorie, maar dit gaan darem al beter as aan die begin. My pa het dit aanvaar en dit is vir my belangrik.
Ek wonder of my organe bruikbaar is. Ek het baie straf gerook en ek weet my longe is useless en my ou tikkertjie trip so nou en dan, so ek weet nie so mooi nie. Ek is pro-orgaanskenking en sal werk maak om te registreer.
Kadawer word? Mmmm, dit is ook die enigste manier hoe ek by die universiteit sal uitkom. Daar is net een ou probleempie – ek het al ‘n hele paar “*-tomies” gehad (my man reken ek verlaat hom so stuk-stuk), dus weet ek nie of my lyf kwalifiseer nie. Miskien sal dit gebruik kan word vir “spot the missing parts” monkey puzzle…..
Die masjiene storie is ook nie vir my nie…hoekom die onvermybare uitstel? Ek wil tog net ook asb veras word…no mess no fuss of iets in daai lyn. My peetpa het altyd gese hy wil nie tweekeer brand nie
Nie dat ek vir een oomblik glo hy brand nie, maar hy is toe onder ‘n lekker groot boom begrawe.
Dis nie lekker om aan hierdie dinge te dink nie, maar ek dink ek en my liefie moet bietjie ernstig gesels.
Ek wil net se dat met orgaanskenkings ‘n testament nie juis gaan help nie. Tyd is van kritiese belang, en hoe lank na jou dood word die testament eers gelees? Op die ou einde is dit die naasbestaandes wat daardie besluit sal moet neem, want organe kan nie wag om ‘geharvest’ te word nie.
Ek sou ook nie self kunsmatig aan die lewe gehou wil word nie, maar ek dink dit sal vir my baie moeilik wees om nie my man of kinders ten alle koste aan die lewe te wil hou nie. Kan maar net hoop dat ek nie eendag voor daardie keuse te staan moet kom nie.
Goeie besluit. Het 15 jaar gelede al so ‘n lewende testament laat opstel.
Jo-Ann, ai, hoe laat jy my aan die dink gaan. Ek sou ook nie met masjiene aan die lewe gehou wil word nie. Jou idee is baie goed…
Ek het nie woorde nie…deurdink nog jou inskrywing……dis ‘n moeilike een
Zee, ons hou die lewende testament aan al ons kliënte voor as ons hulle gewone testamente opstel. Dit is een dokument waarvan die oorspronklike by jou bly. Dit is natuurlik ‘n gratis diens wat ons lewer.
Marile, dit is vir party mense moeilik. Mens lees soms van mense wat na baie lank uit ‘n koma bykom. Dan was daar egter breinaktiwiteit en dus ook hoop.
Ek glo dat die dokters mens net breindood sal verklaar as hulle 100% seker gemaak het en daar geen breinaktiwiteit is nie (ek sal meer as een opinie inwin). As die brein dood is en die liggaam word kunsmatig aan die gang gehou, is dit nie lewe nie, dit is ‘n liggaam wat weerhou word van ‘n natuulike proses. Teen daardie tyd is liggaam en siel lankal geskei. Wat as daar nie mediese tegnologie was nie? Dit is wanneer ek wil hê my testament moet namens my praat en my naastes die ekstra pyn spaar.
Ek dink dis ‘n wyse besluit om nie met masjiene aan die lewe gehou te word nie! Dit kos ‘n fortuin wat eerder beter op bv jou kinders spandeer kon word! Mens moet net dan hoop dat jou lewensduurte nie uitgerek word nie. My sus het nie eers 2 maande geleef nadat sy gehoor het sy het kanker nie. Sy het die laaste 3 weke op baie hoe dosisse morfien geleef en daar is genoem dat sy ook kon gesterf het agv oordosis morfien. As ek net dink hoe het dokters haar in ‘n blik probeer druk deur wel chemo te kry, maar nie een van hulle het gese dat dit net eintlik alles gaan vererger nie! Vir ons klink dit asof die een so vir die ander ngesorg het – ‘n geldmaak storie! As mens emosioneel daaraan dink, mnoet dit gedoen word, maar as jy logies dink, kan jy dink dat ‘n liggaam wat so oortrek is van kanker, nie met chemo kan regkom nie. Dit was ook haar wens dat geen masjiene hoegenaamd haar lewe moet probeer verleng nie, dit is hoekom syself teen chemo besluit het.
Tersia, my simpatie met jou sus. Ons is deur tien maande daarvan met my ma. Dit was eers vir bestraling en later chemo. Op die chemo het sy mooi reageer en selfs gewig aangesit. Die bestraling het egter haar slukderm beskadig en sy moes ‘n stent kry waarna sy nooit weer kon eet nie. Dit was die begin van ‘n vinnige einde. Toe sy aan die begin van Junie hier weg is, het ek geweet sy kom nie weer terug Kaap toe nie. Toe ek haar in die Julie in Namibië gegroet het, was sy nog nie op morfien nie, maar moes toe deur ‘n buis in haar maag voeding kry. Sy is die volgende week op morfien en haar laaste twee weke het sy in ‘n newel bestaan. Ek dink soms dit was ook te veel morifen wat haar finaal laat gaan het, maar as dit so is, sal ek dit nooit bevraagteken nie. Sy het nie meer geleef nie; net hortend asem gehaal en die heeltyd vog uitgehoes. Sy het gevra om nie hospitaal toe geneem te word of om op masjiene gesit te word nie. Sy het mooi gegaan op die einde – net haar asem uitgeblaas. Dit kon anders wees; ons kon desperaat bly klou het en haar lyding net verleng het.
My hart se punt moes dit doen sowat 5 jaar gelede. Ek eina soms nog saam met hom en veral as die twyfel te veel word oor die ‘wat as’, kan ek maar net daar wees, want ek weet een ding: ain’t nothing I’m gonna say that’ll make that uncertainty go away.
Van die os op die esel – my groot vriend Carl was jare gelede in ‘n motorongeluk en na ‘n lang pad van herstel (4+ maande koma ens.) het ons eendag in ons vriendekring gesit en kuier… die gesprek het juis om hierdie tema gedraai. Een (nuwe) maatjie het gesê dat as dinge sus of so sou voorkom, hy beslis die ‘masjien’ sou afsit (hetsy ‘n geliefde asook vir homself). Carl het so stil eenkant gesit en rustig vir hom gesê: “as my vrou geglo het soos jy, was ek nou nie meer hier nie”. Hy is nou welliswaar nie dieselfde as voorheen – sal nooit wees nie; daar is baie skade aan memory etc. , maar hy is hier en maak steeds ‘n (groot) verskil. Dis sulke gebeurtenisse wat mens tog steeds laat hoop dat daar altyd hoop moet wees. To each his own en ek is maar ‘n draadsitter op hierdie tema, cause I don’t know – I really don’t know…
x
Terloops, ek het ‘n vriendin wat pataloog is – sy spesialiseer tans in eye-transplants. Jy kan nie glo hoeveel van een oog vir meer as een ontvanger aangewend word nie. So, if you have nothing else to give… (as jy as orgaanskenker geregistreer is, sal hulle wel gebruik wat hulle kan).