Ek het vandag aan ‘n slang gevat!
Eskom Enterprises (!?) is in dieselfde gebou as ons. Hulle het ‘n slang- en noodhulpdemonstrasie vir hulle tegnikuste gereël sodat hulle vertroud kan wees met wat in die veld teëgekom kan word. Die slangman (naam onbekend) het net vier van sy speelmaats saamgebring. Dit is volgens hom die mees algemeenste waarmee die tegnikuste dalk te doen sal kry. Hy reken die slange sal eerder padgee as aanval. Ek glo hom. Behalwe vir ‘n dooie molslang of twee langs die weskuspad, het ek nog net slange in aanhouding gesien. Seker ook maar omdat ek nie op hulle tuisveld speel nie.
Ek het aan die molslang gevat – natuurlik nadat ek darem eers doodseker was die slangman het hom in ‘n stewige greep. Mens verwag nogal dat dit koud en selfs klam sal voel, maar dit is maar net leeragtig en glad nie koud nie. Niemand het dit te na aan die pofadder, boomslang of Kaap Kobra gewaag nie. Ek het my kamera toevallig by my gehad, maar dit was nie reg ingestel vir die wit lig in die parkeergarage nie en die foto’s is maar power. Die slangman is net so vol prentjies soos sy slange.
Ek het skakels ingesit vir meer besonderhede oor die slange en daar is baie mooi foto’s van elke van die spesies.













dit help natuurlik nie dat ek toevallig indiese musiek luister terwyl ek dit lees nie, hehe…
Huh-uh, Jo, M A N ! ! !
Johanswarts – jou humorsin is onverbeterlik! Kort daar nie dan een of ander wikkellyf danser ook nie???
Hierie doen dit nou GLAD NIE vir ouding nie! Ding spring op die tafel of gaan haal die haelgeweer uit as daar net ‘n muis of vlermuis in die huis is – laat staan dan nog slange!
Ek is GLAD nie lief vir slange nie.
My oudste, aan die ander kant, vrek oor slange. En hy raak briesend as hy hoor mense het ‘n slang doodgemaak. ‘n Slang lyk soos iets van die duiwel, maar dit is so, hulle is banger vir ons as ons vir hulle!
Slangman se naam is nie dalk mnr. C. Razy nie?
Nee wat, hou verby. Ek vat eerder aan ‘n lyk as aan ‘n slang. Genoeg lelike ervarings in my lewe met hulle gehad om ‘n vreeslike beenhaar groei aan te wakker net deur na die foto’s te kyk!
Ek sal slange nie pla nie solank hulle my ook nie pla nie.
Ek wonder of ek my verbeel dat slange ‘n “reuk” het? Ek het dit Vrydagoggend tog duidelik geruik en ek is seker ek het die reuk herken van ‘n kennis se troetelslang, een of ander soort luislang.
Ding, ek het nogal gaan soek na informasie van daardie wikkellyfie, Glenda Kemp, en haar slang Oupa. Gits, die kerk het haar amper elke week iewers in die media geslag en gehang. Dit was in die dae toe daar nog sterretjies oral was en daardie tydskrif, Scope, mak was teen die goed wat vandag op die winkelrakke is en op E-TV adverteer word.
Gee ons dan nou ouderdom weg hier……
Jaaanee, Jo, daai jare het slange in sulke tydskrifte nog ‘n ander betekenis gehad en het hulle anders gelyk ook
Neewat, dis nie die ouderdom nie – dis die wysheid!
Maar Teddie het my net die naweek weer na die troeteldier winkel geneem om vir my die oulike slangetjies te gaan wys! Ek dink hy skimp vir ‘n kersgeskenk! Ek hou my natuurlik blond!
Gril ek nou! Ek en slang-se-kind sal hopelik nooit kennis maak nie.
Dagse Jo-Ann
Nee wat ek glo in sy kop sal vermorsel word en niks minder nie.
Slange, binne of buite glaskaste staan my glad nie aan nie.
Groete en alles wat mooi is.
Kyk, jy kry slange….. en jy kry slange….! Ek het ook een! Nee, ‘n rerige een! ‘n Boa (luislang). Haar naam is Glenda (die van julle wat oud genoeg is, sal vir Glenda Kemp onthou), vandaar haar naam! Glenda is nou 8kg, en 2m lank! Praat nooit terug, vloek nie, vra een keer ‘n maand kos en gedra haarself altyd!
Tersia,
Die Engelsman wil ook so speelslang hê. Ons het mos lankal ‘n dieretuin van soorte, maar dit is nou die een keer wat ek my voet neersit. As Slang intrek, trek ek uit. Ander mense kan maar hulle huise met slange deel maar nie hierdie mens nie.