Kyk, ek kuier hopeloos te min hier rond! Ek stap gereeld verby Die Seepkissie en sien hoe die arme ding stof vergader, maar vir omskop sien ek nie kans nie… dit sal wees soos deel van my uitvee die dag as ek tot die stap oorgaan. Dan klik ek maar net die tong en skud die kop en reken ek sal moet tyd maak. Ek het geweet ek gaan besig wees in my nuwe beroep en as ek nou eers begin swot, dan gaan ek maar moet wegbly uit die voetpaadjies van die blogsfeer anders gaan ek myself vasknoop. Tot dan loer ek maar so nou en dan in…
Ek het gestem. En ek kan nie kla oor die uitslag van die stemmery nie – dit is eintlik beter as wat ek verwag het. Dit kon erger gewees het. Dit was vreedsaam waar ek was en ek het vry en sonder druk van enige soort my stem uitgebring. Ek dink net dat as jy nie ‘n stempeltjie in jou ID boekie het die volgende dag nie, moet jy maar ‘n dag se verlof insit. Die ekonomie se brieke word aangedraai sodat jy kan gaan stem. Van jou medeburgers maak finansiële opofferings sodat jy gemaklik en tydsaam iewers in ‘n ry kan inval om jou stem uit te bring. As jy gekies het om nie te kies nie, dan moet jy maar voorregte soos ‘n pasella afdag inboet. Tog is ek bly dat die stembusse so besig was en dat soveel geregistreerde kiesers wel gaan stem het. As almal nou net wil registreer en volgende keer weer in masssas gaan stem, gaan ons demokrasie en verteenwoordiging wel ‘n behoorlike kans gee.
En toe val ek vir die Idols grap. En ek bring ‘n paar stemme uit. Stupid. SMS so ewe om die outjie te ondersteun en nogal vroeg om darem voorsiening te maak vir ‘n stelsel wat moontlik oorlaai kan raak. En raai, vyf van my stemme is na die tyd afgelewer. Op die telefoonlyn kon ons (gelukkig?) nie deurkom nie. En so lees ek hier en daar en oral dat daar nog mense is wat kla dat hulle stemme nie deurgegaan het nie. Nou wonder ek so bietjie stilletjies… ons weet tog almal hoe werk die stemmery… die operateur kry sy stukkie en die kompetisie se organiseerders vat ‘n vet hap en voer hulle sakke uit. Ek vermoed R1 van die R2 beland in die organiseerders se kissie. Ek wonder nou of Alexander Forbes vir ons kan bevestig hoeveel stemme na die tyd afgelewer is wat nie kon tel vir die kompetisie nie? Voor julle tamaties gooi, ek weet die uitslag kan nie nou verander word nie – water onder die brug is water onder die brug. Ek wil net sien dat my R10 wat ek aan stemme spandeer het wat nie getel het nie omdat die stelsel buite werking was/nie die druk kon hanteer nie/gesaboteur was of wat ookal, dan nie in die kissie van die kompetisiebase eindig nie, maar na ‘n liefdadigheidsorganisasie gaan. Net om te wys daar is nie naarheid nie, kan die nr 1 en nr 2 saam besluit wie die geld moet kry. Volgende jaar sal ek seker weer kyk, maar ek sal maar ‘n tien randjie by die gidshondblikkie gaan ingooi.
Iedergeval, die dag wat ek R900 betaal vir ‘n Springbok replikatrui moet my kop gelees word. Ek gaan die goed probeer verkoop, want dit is wat ek deeltyds doen, maar ek sal sekerlik formeel my enkele suksesse kan aankonding. Weet die klomp wat die trui teen daardie prys versprei dat ons land en ons mense se beursies kwaai gekrimp het? Ek moet erken dat ek deesdae rondkyk om te sien of iets soos Tupperware nie dalk maar die beter opsie is vir ‘n deeltydse inkomste nie. Rugby het laas goed betaal toe die Stormers darem nog bietjie meer as Suutjiestrap was. Wat ‘n teleurstellende seisoen!
Nou ja, ek moet nog weer ‘n paar kwotasies aanmekaarslaan en een en ander regkry vir my vroegoggenduitstappie stad toe. Ek ys as ek dink hoe die parkering môre weer my sak gaan ruk… maar solank die besigheid kom, mag ek seker nie kla nie. Dit gaan maar rof daar buite… maar dit bly lekker…









Hallo Jo
Dit is hartseer as ‘n mens nie meer tyd vir jou blog het nie. Ek weet nogal waarvan jy praat. Gelukkig is ‘n blog ‘n geduldige wese. Dit wag tot jy weer tyd het.
Jason moes gewen het – finish en klaar. Ek gaan nog daai doen waaroor ons vanmiddag gepraat het. Ek weet die girlie het gewen en dit kan nie omgekeer word nie, maar alles was beslis nie kosher nie. En nee, dis beslis nie suur druiwe by my nie, maar Sasha-Lee klink meer soos ‘n wannabe American Idol as iets Trots Suid-Afrikaans. En ja, gooi my nou maar met tamaties
Wat die ergste is, is as jy nie meer lus is om te blog nie, MAAR jy hou nog steeds aan.
Kompulsief, obsessief… Ek het nou my wederhelfte my password laat verander sodat ek tot net van die blessitse ding kan wegbly.
Sonkind, Sonkind. Voel jy regtig daar was ‘n knoeispul aan die gang met Idols…of issit net sodat jy nie panties hoef te eet nie??
Oe, ek gaan daai een nie mis vir enigiets nie!
Ek was so besig die laaste ruk, en probeer net opvang. Een ding weet ek nou, mens verlang jou dood na jou blogmaats as jy nie blog nie!!!
X paste…. lang dag, baie drama… een wat ek nie oor wil hê nie…
Hi Jo-Ann
Ek het jou klagte aan Amanda de Lange oorgedra, sy cover die Idol-storie. Sy het dit glo aan Mnet oorgedra en wag seker nog om van hulle te hoor. Maar as ek jou eerlikwaar moet sê, ek dink hulle gaan bloot wag dat die ongelukkigheid oorwaai. Ek verneem egter jy is geensins in die minderheid met jou ongelukkigheid nie, baie mense is.
Groete
C.
Troosprys…. ons stemme word darem getel… ek reken M-Net het begin kopkrap hoe om al ons R2′e terug te betaal…
http://www.ewn.co.za/articleprog.aspx?id=12907
http://www.mnet.co.za/Idols/News/Article.aspx?ArticleID=281
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2513008,00.html
En ons wag maar in spanning…… Ek sal graag wil weet hoe Mnet die storie gaan hanteer as daar wel meer stemme vir Jason was… (wat natuurlik so was
)
Jo-Ann, gelukkige moedersdag môre!
Gelukkige moedersdag môre!