05
Jul
09

Sondagaand

Nog ‘n week is verby.  Ek was sonder ‘n rekenaar want die Engelskind het aan myne gewerk om dit beter en vinniger te maak en dit het bietjie langer gevat as wat verwag is. Ek hou gewoonlik verniet asem op, want dit lyk my die man weet beslis wat hy doen.  So van hom gepraat, hy het weer uitstekend gedoen in die eksamen!

Ek is besig om stelselmatig uit te pak, weg te gooi en reg te pak.  Vanaand voel dit of my beenspiere gekrimp het elke keer as ek opstaan na ‘n stukkie sit. Dit is van op en af met die kortleer om bo in die kaste uit te kom.

Ek is een van daardie mense wat sukkel om goed weg te gooi – veral goed wat deur my ma gemaak is. Ek het die naweek besluit dit is tyd om badkamergordyntjies van meer as twintig jaar terug uit te gooi. Onder andere. Maar weer het ek ‘n paar items met kerspitborduurwerk teruggehou vir die nostalgie daarvan eerder as enigiets anders. Net omdat Ma dit met soveel sorg en liefde vir my gemaak het. Dit is vergeel van ouderdom, maar dit bly spesiaal. Ek het myself beperk tot een boksie vol hougoed en die res uitgegooi. Die wa raak al hoe ligter. Volgende naweek sal ek verder werk daaraan.

Ek het die week nogal baie aan my oorlede ma gedink. Moeder natuur herinner my aan haar. Oral staan Aalwyne in die blom en ‘n hele paar Strelitzias spog met pragtige blomme. Dit en Aronskelk sal my altyd aan my ma laat dink. Ek wonder soms wat sou sy sê as sy nou hier kon wees. Ek het die loopbaanskuif gemaak waarvoor sy my aangemoedig het. En dit gaan deesdae baie goed. Ek verlang sterk, maar die groot hartseer is oor. Tyd maak dit tog beter.

Ek weet dat winter amptelik hier is as my Frangipani sy blare verwoed begin afgooi. Ek weet ook dat die pad terug somer toe nie te lank sal wees nie. Dit voel altyd vir my asof die Frangipani eintlik bietjie laat is met afgooi en nuwe blare kry. Dit is dan net ‘n paar weke weg van blomtyd af!

My TV was amper nie aan die naweek nie. Ek het in die verbyloop gehoor dat die Bokke dit nie gemaak het om die Lions sonder oorwinning huistoe te stuur nie. En ek het gehoor dat die Wimbledon finaal ‘n titaniese stryd was. Ek het nie een van die twee gekyk nie. Het ek veel gemis? Ek dink nie so nie.

Iewers het ek gesien dat daar iets soos 17,500 kaartjies uitgegee word vir Michael Jackson se roudiens terwyl 1.6 miljoen mense navraag gedoen het. Gits. My dogter se swaer werk by Musica en hulle het gister ‘n besending van sy CD’s ingekry en dit het binne enkele ure uitverkoop. Ek weet daar is mense wat langspeelplate versamel. Sal ek die Thriller langspeelplaat wat in die huis is, nog mooi in sy plastiese slopie, opveil om te sien net hoe gek die gekkes is? Ek reken dit sal ‘n goeie prys haal. Ek vir een sal nie die plaat mis nie.

Die week wat kom hou belofte in. Sy eie uitdagings ook, maar ek verkies om te fokus op dit wat positief is. Dit is ‘n maak of breek week. Ek kan nie wag om te weet of dit wat beplan is, wel realiseer nie. Geduld, o gee my net geduld! Ek sal wel ‘n baie groot lawaai hier kom maak as die  777 val!

Ek het die afgelope week nuus gekry waarop ek vir ‘n ruk lank gehoop het – ek word Ouma!  So teen einde Februarie of vroeg in Maart gaan hierdie ouma se Nartjiepit mensie word. Ek kan nie wag nie en moet net keer om te begin koop.  Was nogal Vrydagaand in by Naartjie…. maar ek dink my Nartjiepit sal maar ‘n Ackermans Baby moet wees – daardie goed is pragtig, maar die pryse is belaglik vir items wat net ‘n maand of drie gedra sal word.

So van nostalgie gepraat, ek groet met ‘n ou foto van myself waar ek reg was vir my Vasbyt… die sak is darem ligter gemaak na die foto… Anderdag sit ek een op van my laaste dag in uniform.  Dit was April die jaar 10 jaar wat ek uit die mag is.

Vasbyt


3 Responses to “Sondagaand”


  1. 1 BB
    Julie 6, 2009 at 1:34 nm

    Is hoogtyd ek bietjie daardie aanpak!! Ek het so ‘n paar geborduurde goedjies van my ouma wat ook so saamtravel in ‘n “memory box”… Helge reken dissie ‘n box nie – Maria van Riebeeck sou haar oogtande gegee het om so ‘n travel-kis op daai skip te kon hê (en dit vir AL haar aardse besittings) :mrgreen: – intussen gaar die ‘goete’ in laaie en ander kaste op – en sal ek maar moet begin sort binnekort. Daar is darem nog ‘n bietjie plek in my box ;)

  2. Julie 6, 2009 at 3:50 nm

    Ek is Adriana Magrieta Swanepoel en ek is onbeskaamd sentimenteel. Ek gooi ook niks weg nie.

  3. Julie 6, 2009 at 7:54 nm

    Ek het andcerdag een kissie present gekry. Dis nou my memory kissie. Als wat nie daarin pas nie, moet weggegooi of weggegee word. Ek het ook net paar sentimentele goed van my ouma. My ma lewe gelukkig nog. Die res worry ek nie oor nie :-)


Leave a Reply




Sew Pretty Homestyle

Kaapstad, Suid-Afrika

Dis ek die…

Kalender

Julie 2009
M T W T F S S
« Jun   Aug »
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
2728293031  

Argiewe

MY GUNSTELINGE

RSS BB’s Blog

RSS Boendoe

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Die Pienk Zuit

RSS Ding se Dinge

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Gert Gariep

RSS Karin se Dink en Droomplek

  • Fin September 26, 2009

RSS Kokkewiet

  • ?? Oktober 21, 2009

RSS Louisa

RSS Pikkelik se Blik

RSS Rosalind Franklin

RSS Wipneus

RSS Woestynsand

RSS Wosonki

Van Waar…..

SA Top Sites

Statistiek

  • 41,828 Loere
Jo-Ann Schou's Facebook profile

Bookmark

Bookmark and Share