Op my dag, voor las met karpale tonnel sindroom, het ek gebrei. Baie. Ek kon nie voor die TV sit as my hande nie besig was nie. Ek het die trui, wat die man in die foto aanhet, gebrei. Dit was in die ekwivalent van die kleure wat vir die patroon se foto gebruik is; ek kon in Walvisbaai nie die presiese wol kry wat aangedui was nie. Al moet ek dit self sê, het die trui baie mooi uitgekom alhoewel dit my eerste kabeltrui was. Kliek hier vir die patroon uit Value van April 1986.
Daar het heelwat wol oorgebly en ek het vir my dogter toe ‘n streeptrui gebrei van die resbietjies. Ilana was altyd baie opgewonde oor die truie wat ek vir haar opgetoor het en sy het baie van die kleure gehou en het my aangejaag om klaar te maak. Ek was nog besig met die trui net so voor ‘n skooluitstappie aangekondig is. Toe is ek darem mooi gevra om gou te maak sodat sy die trui vir die uitstappie kon aantrek. Dit was een van die jare wat tosseltjies nogal in was en ek moes toe ook ”cowboy-tosseltjies” aansit.
Soos die dag van die uitstappie nader gekom het, so het die trui ook amper klaargekom. Teen die aand voor die uitstappie moes ek dit nog net aanmekaar werk en die tosseltjies aansit. Die vaswerk en afrond het my gewoonlik amper langer gevat as die brei self, want ek was baie puntenerig om my breiwerk pynlik netjies af te rond – ek het immers ‘n baie noukeurige leermeester in my ma gehad. So sit ek toe tot na middernag om die trui klaar te kry sodat dit die volgende dag gedra kon word. Ek was nie half trots oor hoe pragtig die trui uitgekom het en hoe mooi en kleurvol dit saam met Ilana se denim gelyk het nie.
Ek het nie eens kans gehad om die trui uit te spoel nie en Ilana is net so skool toe daarmee. Dit was die laaste wat ek daardie trui gesien het. Die klassie is met die trein oor na die buurdorp en het daar rondgeloop na plekke wat ek nie kan onthou nie en het weer met die trein teruggekom. Die trui is iewers uitgetrek en het moontlik selfs op die trein agtergebly met die terugkomslag. Nou noem ek die trui die Daglank Trui. Ek het darem ‘n foto. En Ilana het die manstrui geërf en dra dit as slonsdrag by die huis….















Kommentaar