Daar is vir my niks lekkerder as om kaalvoet teen een van die duine langs die Namibkus uit te klim nie. Om op ‘n warm dag my voete in die sand in te druk sodat dit nie brand nie en om te voel hoe die sand tussen my tone deur sypel. Lekker. Dit bly ook maar die beste “foot-scrub” ooit. Dit is dae soos die laaste paar nat dae wat ons in die Kaap gehad het, wat ek weer erg verlang na die plek waar dit sand reën.
Van Walvisbaai is daar nog altyd gesê dat mens twee keer huil… die dag wat die meubelvervoerwa voor jou nuwe tuiste staan en die stofwind waai vinniger sand in die huis in as wat daardie huisware afgelaai kan word en dit vir jou voel asof jy sand tussen jou tande het. En dan weer die dag wat die meubelwa jou goedjies laai vir die wegtrek en jy sukkel om die wortels wat jy geskiet het los te wikkel. Dit is twintig jaar later en my wortels sit nog steeds daar anderkant in die sandwêreld vas. Miskien het dit iets te doen met die hoë roesfaktor.
Ons kry ook bergwindtoestande in die Kaap. Ek kry sommer so half opgewonde gevoel as dit deurbreek, maar dit is nou maar eenmaal nie die ervaring van die Namib nie. Daar kom die Ooswind in die nag op en ruk jou vroegdag uit jou slaapnewels met ‘n geweldige gebulder om die huis se hoeke. Dan is dit warm, vrek warm. Van die vorige dag se 7°C tot 37°C in 24 uur. Die drastiese styging in temperatuur is iets waarmee mens maklik kan saamleef; dit is die sandreën wat ‘n toets vir geduld is. Dit sif oral in en skoonmaak terwyl die wind waai is ‘n onbegonne taak. Mens sien net ‘n lampaal of twee ver af in die straat. Dit is half donker en alles lyk vuil en dof. Dit voel asof dit net nooit sal ophou nie. Iewers rondom die middaguur gaan lê die wind en daar word gewens dat nag kom voordat die son mens doodbrand. Dan kom die lekkerte wat ek altyd vreeslik geniet het – die mooiste lekker warm braaivleisaande in die middel van die winter; wanneer daar menigmaal ook afgesit is see toe vir bietjie lafenis. So asof Moeder Natuur darem bietjie troos bring voor die volgende dag se aanslag.
Ek het laas in die Junie 1991 regte Oosweer meegemaak. Jenny Myhnhardt het heirdie jaar ‘n paar foto’s beskikbaar gestel. Kyk net hoe sit die motor op die teerpad in die sand vasgeval! Ek moet darem byvoeg dat dit in die Langstrand-ontwikkeling (waar Brad Pitt en Angelina Jolie tuisgegaan het) gebeur het en dat daardie ontwikkeling tussen die duine en die see lê – die dorp self lyk nie só erg nie.
Dit is in skrille kontras met wat ek elke winter in die Kaap beleef waar ons die week weer drama met vloede gehad het. “Ons” is seker die verkeerde woord omdat ek genadiglik hoog woon en werk en nêrens deur laagliggende dele moes beweeg het nie. Die ergste wat ek ervaar het is so effense waterglipsie naby Kevin se skool toe die motor se gat so liggies gegly het (miskien het ek bietjie te vinnig deur die plassie gery; mos altyd haastig).
(reënfoto’s geleen by News24)
Ek bly ‘n Duinekind… dit vat ‘n dag se harde skoonmaak om na ‘n stofstorm alles weer skoon en blink te kry. Dit vat ‘n hele lente om die koue en klammigheid uit my murg te kry. Ek kyk met ‘n huppel in my hart hoe daar oral blomme en bloeisels begin verskyn – dit beteken nog ‘n wrede koue seisoen is amper verby.
Oor twee weke gaan ek die flaminke groet by Walvisbaai se strandmeer nadat ek Duin 7 gaan klim het! Ek kan nie wag vir die vliegtuig om te daal oor die see en die duine nie….


















Kommentaar