20
Aug
09

Ek bly ‘n Duinekind

Daar is vir my niks lekkerder as om kaalvoet teen een van die duine langs die Namibkus uit te klim nie. Om op ‘n warm dag my voete in die sand in te druk sodat dit nie brand nie en om te voel hoe die sand tussen my tone deur sypel. Lekker.  Dit bly ook maar die beste “foot-scrub” ooit.  Dit is dae soos die laaste paar nat dae wat ons in die Kaap gehad het, wat ek weer erg verlang na die plek waar dit sand reën.

Van Walvisbaai is daar nog altyd gesê dat mens twee keer huil… die dag wat die meubelvervoerwa voor jou nuwe tuiste staan en die stofwind waai vinniger sand in die huis in as wat daardie huisware afgelaai kan word en dit vir jou voel asof jy sand tussen jou tande het. En dan weer die dag wat die meubelwa jou goedjies laai vir die wegtrek en jy sukkel om die wortels wat jy geskiet het los te wikkel. Dit is twintig jaar later en my wortels sit nog steeds daar anderkant in die sandwêreld vas. Miskien het dit iets te doen met die hoë roesfaktor.

Ons kry ook bergwindtoestande in die Kaap. Ek kry sommer so half opgewonde gevoel as dit deurbreek, maar dit is nou maar eenmaal nie die ervaring van die Namib nie. Daar kom die Ooswind in die nag op en ruk jou vroegdag uit jou slaapnewels met ‘n geweldige gebulder om die huis se hoeke. Dan is dit warm, vrek warm. Van die vorige dag se 7°C tot 37°C in 24 uur. Die drastiese styging in temperatuur is iets waarmee mens maklik kan saamleef; dit is die sandreën wat ‘n toets vir geduld is. Dit sif oral in en skoonmaak terwyl die wind waai is ‘n onbegonne taak. Mens sien net ‘n lampaal of twee ver af in die straat. Dit is half donker en alles lyk vuil en dof. Dit voel asof dit net nooit sal ophou nie. Iewers rondom die middaguur gaan lê die wind en daar word gewens dat nag kom voordat die son mens doodbrand. Dan kom die lekkerte wat ek altyd vreeslik geniet het – die mooiste lekker warm braaivleisaande in die middel van die winter; wanneer daar menigmaal ook afgesit is see toe vir bietjie lafenis. So asof Moeder Natuur darem bietjie troos bring voor die volgende dag se aanslag.

Oosweer1 Oosweer2 Oosweer4 Oosweer3 Oosweer5

Ek het laas in die Junie 1991 regte Oosweer meegemaak.  Jenny Myhnhardt het heirdie jaar ‘n paar foto’s beskikbaar gestel. Kyk net hoe sit die motor op die teerpad in die sand vasgeval! Ek moet darem byvoeg dat dit in die Langstrand-ontwikkeling (waar Brad Pitt en Angelina Jolie tuisgegaan het) gebeur het en dat daardie ontwikkeling tussen die duine en die see lê – die dorp self lyk nie só erg nie.

Dit is in skrille kontras met wat ek elke winter in die Kaap beleef waar ons die week weer drama met vloede gehad het. “Ons” is seker die verkeerde woord omdat ek genadiglik hoog woon en werk en nêrens deur laagliggende dele moes beweeg het nie. Die ergste wat ek ervaar het is so effense waterglipsie naby Kevin se skool toe die motor se gat so liggies gegly het (miskien het ek bietjie te vinnig deur die plassie gery; mos altyd haastig).

2af83897d2fe45cb814e35d2920b1304 2b2fec41a7734f9a848e35030d0b69a7 7b8482871c234494818e169c78d4fdb2

(reënfoto’s geleen by News24)

Ek bly ‘n Duinekind… dit vat ‘n dag se harde skoonmaak om na ‘n stofstorm alles weer skoon en blink te kry.  Dit vat ‘n hele lente om die koue en klammigheid uit my murg te kry.  Ek kyk met ‘n huppel in my hart hoe daar oral blomme en bloeisels begin verskyn – dit beteken nog ‘n wrede koue seisoen is amper verby.

Oor twee weke gaan ek die flaminke groet by Walvisbaai se strandmeer nadat ek Duin 7 gaan klim het! Ek kan nie wag vir die vliegtuig om te daal oor die see en die duine nie….


7 Responses to “Ek bly ‘n Duinekind”


  1. Augustus 21, 2009 at 12:36 vm

    Ek verstaan hoe ‘n sekere plek net ‘huis’ is. Ek hoop die tuiskoms gaan alles wees waaroor jy droom. :wink:

  2. Augustus 22, 2009 at 8:34 nm

    Jo-Ann ek was nou wel nog nooit op Walvisbaai nie, maar in Desember 1963 het ons in ‘n “skemahuis” ingetrek langs die Oranjerivier. Daar kom die duine tot teen die rivier en ons huis het so voor ‘n duin gestaan. Die sand was omtrent vir my ma dieselfde nagmerrie as wat jy beskryf. Maar vandag is ek nog nie klaar gehuil oor daardie duine nie. Ek bly ook ‘n duinekind. My ma het my nie verniet haar boesmantjie genoem as ek namiddae met my flenterigge hempie en my boog en pyle uit die veld gekom het nie!

    Geniet jou kuier!

  3. 3 Jo-Ann
    Augustus 22, 2009 at 10:53 nm

    Mykopop,

    Ek en my broers het ook die duine in gestap – dit het ook tot redelik naby aan ons huis gekom. Tussen die duine was dit op ‘n windlose dag so stil dat dit gevoel het of mens die torre kon hoor hyg.

    Een middag was ons weer duin op en duin af en ons onsself lam geskrik toe daar skielik drie swart koppe oor die volgende duin se kruin verskyn het – eintlik was dit eers drie inkopiesakke en toe die koppe daaronder. Onthou, dit was in erge apartheidsjare en my ma het altyd so lekker met ‘n spokerige hees stem voorgedra aan “donker donker middernag, nader kruip die zoeloemag” dat ons alles wat soos ‘n zoeloe kon lyk, gevrees het. Skielik was ons drie kaalvoet wapenlose kinders “bedreig” deur ‘n “zoeloemag”.

    Ons het baie vinnig gat skoongemaak rigting huis toe en vir ‘n hele ruk was ons speelplek nie meer so aantreklik nie. Wat ons nie geweet het nie, was dat dit Topnaars was wat in die duine gewoon het en dorp toe was vir aankope Ons het so ver gedwaal tussen die duine dat ons aan die rand van Kuiseb se delta beland het.

    My ma het gewerk en die huishulp wat ‘n ogie oor ons moes hou, het nie met ons gesukkel as ons oorkant die pad in die duine wou speel nie. Ons het eers later jare een aand vir my ma vertel van ons staptogte in die duine – die arme vrou wou ‘n oorval kry en het gereken net gebed het ons groot gekry.

    Ek weet nie of kinders vandag nog so sorgvry kan rondloop daar nie. Maak seker ook nie saak nie. Vandag se kinders kna hulle nie verbeel hulle is op ‘n safari op soek na verlore skatte in ‘n wilde woeste woestyn nie – hulle kyk na ander se verbeeldingsvlugte op TV. Die bottels wat my broers uit ‘n baie ou afvalhoop gekrap het, het aangegroei tot ‘n baie aantreklike versameling en die bottels dateer uit die 1920/30 jare!

  4. Augustus 22, 2009 at 11:27 nm

    Ek hoop jy kan eendag weer voor daardie deur stilhou tussen die sand duine en vir goed afpak :)

  5. Augustus 25, 2009 at 4:45 nm

    Dagse Jo-Ann

    Mag jou verlange na jou geliefde duine gou gestil word. Geniet jou kuier en bring ‘n hart vol herinneringe saam terug.

    Groete

  6. September 1, 2009 at 4:21 nm

    PRAAT jy! Verlang ek nou sommer na dae baie lank terug!

  7. September 7, 2009 at 8:53 nm

    Hi Jo-Ann

    Ek hoop jy geniet dit! Ons sien uit na die foto’s! ;)


Leave a Reply




Sew Pretty Homestyle

Kaapstad, Suid-Afrika

Dis ek die…

Kalender

Augustus 2009
M T W T F S S
« Jul   Sep »
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  

Argiewe

MY GUNSTELINGE

RSS BB’s Blog

RSS Boendoe

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Boer in Ballingskap

RSS Da Mario

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Die Pienk Zuit

RSS Ding se Dinge

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Gert Gariep

RSS Karin se Dink en Droomplek

  • Fin September 26, 2009

RSS Kokkewiet

  • ?? Oktober 21, 2009

RSS Pikkelik se Blik

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Wipneus

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Woestynsand

RSS Zee

Van Waar…..

SA Top Sites

Statistiek

  • 42,018 Loere
Jo-Ann Schou's Facebook profile

Bookmark

Bookmark and Share