Archive Page 2

17
Jul
09

Koue sneeu-winde en my warm beertjie

Vandag is ek bly dis Vrydag…. dit voel asof ek my oge op Maandag geknip het en “woop” is die week verby. As ek nie so vreeslik koud gekry het in hierdie week nie, sou ek nie eens mooi altyd geweet het dit was aand en dit was môre nie.

Die Engelskind het anderkant die rant gaan kuier en ek was alleen met my eie geselskap en met my brakkie. Heerlik baie ek-tyd gehad. Of was veronderstel, maar dit is so vinnig verby dat ek nie kans gekry het vir veel “ek” nie. Ek sal egter glad nie kla nie… die dividende is op die boeke!

Ek het die week ‘n slag gewens ek kon die lukrake gedagtes wat deur my kop gaan as ek so van een punt na die ander ry, op band vaslê en dit hier kom weergee. Ek dink die grootste klomp nonsens terwyl ek so ry. Een so keer was toe ek so gesit en kyk het na die mooi prentjie wat die sagte voue van Tygerberg Heuwels teen die laag wit wolke en die helderblou lug daarbo maak… en toe begin wonder het hoekom die heuwels se naam met berg eindig as dit net heuwels is. Sien, Tafelberg is ‘n BERG en Papegaaiberg is ‘n BERG. Maar die prentjie was nogsteeds mooi.

Warm BeertjieToe ek later die dag op die randtjie by Kraaifontein  se Gateway area staan en wag vir die verkeerslig om groen te raak, het my oë oor die berge in my gesigsveld gevee en het ek gesit en bespiegel oor watter bergpieke dit nou eintlik is waarop die sneeu so wit lê. Ek is het ‘n gevoel dat die wat so erg ver na die een kant toe lê, die berge in die rigting van Ceres kan wees. Die pieke wat regoor my spierwit onder die sneeu gelê het, is sekerlik Du Toit’s Piek. Ek is skuldig daarin dat ek al 20 jaar in die Kaap woon en nie regtig weet watter berg lê waar nie. Al wat ek weet, is dat wanneer ek sneeu op daardie pieke kan sien, dan sukkel ek om my hande en my voete te ontdooi. Dan is dit tyd vir lang warm baddens voor slaaptyd en dan is dit tyd vir my warm beertjie om voor my bed toe te gaan.

So van die warm beertjie gepraat, dit is een van daai sagte beertjiegoed met ‘n warmwatersak in (presies soos die een op die foto). Die ding lê al lank in die spaarkamer op die bed en dit het nog nooit die hond gepla nie. Toe ek die eerste keer die winter die pensie vol warm water maak, was die hond ernstig wantrouig en het vinnig padgegee terwyl ek die ding in my hande gehad het. Hy het wye draaie om dit geloop as ek dit op die bed laat lê het. Ook net vir ‘n paar dae. Nou wag hy net dat ek my rug draai, dan gaan lê hy styf langs die warm beertjie. So lank ek net nie kyk nie.

Dis tyd vir ontdooi en inkruip by die warm beertjie… en slaap tot ek self wakker word. Niks jaag my môre voor die son op nie… en ek is bly om te hoor dat die son wel gaan skyn!  Hopenlik waai die windjie van die see se kant af en nie van die sneeu se kant nie…

14
Jul
09

Vir Player 23 en die ander ernstige versamelaars

Gaan hierheen om so een te bestel…. let wel, dit is vir hou en wys, nie vir dra nie! Die prys… eish, ek kan dink aan baie dinge wat ek eerder met so geldjie kan aanskaf. Maar dan, as jy die REGTE Player 23 is, dan is dit seker kleingeld! Toegegee, dit is vreeslik mooi en vir die ernstige ou ‘n besliste moet hê.

CS7Commemorative Players presented in a customised box with a certificate and team photo. This jersey is ideal for framing and thus is only available in one size. Price: R1750.00

14
Jul
09

Ek soek

Een van hierdie…..

image0059

om te help om die behoefte aan een van hierdie te keer….

image0097

13
Jul
09

Hartseer

NP IrisMy kind is wonderlik sterk – taai soos ‘n ratel. Sy het hartseer nuus oorgedra en dit het gevoel asof sy my troos in plaas van andersom. Sy het weer ‘n miskraam gehad. Ons het geweet dit kan gebeur en het natuurlik asem opgehou en gehoop en gebid, maar dit was nie beskore nie – nie die keer nie. Ons glo dat dit wel sal kom en dat dit binnekort sal kom. My hart gaan uit na die kinders oor die wiegie wat steeds leeg bly. En my hart is seer omdat hierdie skoot van my net reg is vir ‘n kleinding om op te kom rits en dit kom nie – nie nou nie. Ek glo ons sal nie lank wag nie. Ek glo dat 2010 ‘n pienkvoetjie vir my kinders gaan inhou. Ek weet die kinders sal sterkstaan en nie moedverloor nie. Vir nou is my hart net vrek seer vir my poplap.

12
Jul
09

Vir Nartjiepit

Vir my Nartjiepit wat Nanki-pooh gaan word in die nuwejaar… ek soek nog die woorde vir as dit ‘n meisiekind is.  Ek soek ook die bladmusiek vir skoonseun wat kitaar speel, so as iemand kan help sal ek bly wees.  Ek weet van ‘n paar opnames en besluit nog watter een om te koop – seker maar tannie Carika s’n.

baby-boy-cradle

Luister hier na die weergawe van Marena Lotriet

Nanki-pooh, nanki-pooh, maak nou jou ogies toe,
môre is ver nog, en slapenstyd wag.

Nanki-pooh, nanki-pooh, maak nou jou ogies toe,
mamma sê slaap nou, en mooi droom vannag.

‘n Mensie in wording, hier onder my hart,
my liefde was joune, van toe af tot nou.
En van die begin af het ek al gevoel.
Vervulling is myne, ek is nou ‘n vrou.

Nanki-pooh, nanki-pooh, maak nou jou ogies toe,
môre is ver nog, en slapenstyd wag.
Nanki-pooh, nanki-pooh, maak nou jou ogies toe,
mamma sê slaap nou, en mooi droom vannag.

Jy het gekom en my lewe verander.
‘n Seunskind met bruin oë, soos ek altyd wou.
En mag dit gegee word, dat ek jou nooit faal.
Vervulling is myne, ek is nou ‘n vrou.

Nanki-pooh, nanki-pooh, maak nou jou ogies toe,
môre is ver nog, en slapenstyd wag.

Nanki-pooh, nanki-pooh, maak nou jou ogies toe,
mamma sê slaap nou, en mooi droom vannag.

07
Jul
09

Wie ken die storie?

As jy die storie agter die foto ken, gaan jy jou ouderdom weggee of beter google as ek. Sover ek weet is dit Naas Botha wat so sleg gevat was. Deur wie en wanneer en waar weet ek nie. Vertel ons gerus as jy weet.

Dit bly ‘n goeie aksiefoto en dit moes seker lankal ‘n raam gekry het, maar daar is nie en sal seker nooit ‘n kroeg in my huis wees waar dit sal inpas nie.

As die foto in vandag se dae geneem was, sou die net gons soos almal hulle stukkie kommentaar lewer… dit was egter voor die elektroniese vooruitgang van vandag. Wat sê vandag se spelreëls oor so tackle?

SuperTackle

05
Jul
09

Sondagaand

Nog ‘n week is verby.  Ek was sonder ‘n rekenaar want die Engelskind het aan myne gewerk om dit beter en vinniger te maak en dit het bietjie langer gevat as wat verwag is. Ek hou gewoonlik verniet asem op, want dit lyk my die man weet beslis wat hy doen.  So van hom gepraat, hy het weer uitstekend gedoen in die eksamen!

Ek is besig om stelselmatig uit te pak, weg te gooi en reg te pak.  Vanaand voel dit of my beenspiere gekrimp het elke keer as ek opstaan na ‘n stukkie sit. Dit is van op en af met die kortleer om bo in die kaste uit te kom.

Ek is een van daardie mense wat sukkel om goed weg te gooi – veral goed wat deur my ma gemaak is. Ek het die naweek besluit dit is tyd om badkamergordyntjies van meer as twintig jaar terug uit te gooi. Onder andere. Maar weer het ek ‘n paar items met kerspitborduurwerk teruggehou vir die nostalgie daarvan eerder as enigiets anders. Net omdat Ma dit met soveel sorg en liefde vir my gemaak het. Dit is vergeel van ouderdom, maar dit bly spesiaal. Ek het myself beperk tot een boksie vol hougoed en die res uitgegooi. Die wa raak al hoe ligter. Volgende naweek sal ek verder werk daaraan.

Ek het die week nogal baie aan my oorlede ma gedink. Moeder natuur herinner my aan haar. Oral staan Aalwyne in die blom en ‘n hele paar Strelitzias spog met pragtige blomme. Dit en Aronskelk sal my altyd aan my ma laat dink. Ek wonder soms wat sou sy sê as sy nou hier kon wees. Ek het die loopbaanskuif gemaak waarvoor sy my aangemoedig het. En dit gaan deesdae baie goed. Ek verlang sterk, maar die groot hartseer is oor. Tyd maak dit tog beter.

Ek weet dat winter amptelik hier is as my Frangipani sy blare verwoed begin afgooi. Ek weet ook dat die pad terug somer toe nie te lank sal wees nie. Dit voel altyd vir my asof die Frangipani eintlik bietjie laat is met afgooi en nuwe blare kry. Dit is dan net ‘n paar weke weg van blomtyd af!

My TV was amper nie aan die naweek nie. Ek het in die verbyloop gehoor dat die Bokke dit nie gemaak het om die Lions sonder oorwinning huistoe te stuur nie. En ek het gehoor dat die Wimbledon finaal ‘n titaniese stryd was. Ek het nie een van die twee gekyk nie. Het ek veel gemis? Ek dink nie so nie.

Iewers het ek gesien dat daar iets soos 17,500 kaartjies uitgegee word vir Michael Jackson se roudiens terwyl 1.6 miljoen mense navraag gedoen het. Gits. My dogter se swaer werk by Musica en hulle het gister ‘n besending van sy CD’s ingekry en dit het binne enkele ure uitverkoop. Ek weet daar is mense wat langspeelplate versamel. Sal ek die Thriller langspeelplaat wat in die huis is, nog mooi in sy plastiese slopie, opveil om te sien net hoe gek die gekkes is? Ek reken dit sal ‘n goeie prys haal. Ek vir een sal nie die plaat mis nie.

Die week wat kom hou belofte in. Sy eie uitdagings ook, maar ek verkies om te fokus op dit wat positief is. Dit is ‘n maak of breek week. Ek kan nie wag om te weet of dit wat beplan is, wel realiseer nie. Geduld, o gee my net geduld! Ek sal wel ‘n baie groot lawaai hier kom maak as die  777 val!

Ek het die afgelope week nuus gekry waarop ek vir ‘n ruk lank gehoop het – ek word Ouma!  So teen einde Februarie of vroeg in Maart gaan hierdie ouma se Nartjiepit mensie word. Ek kan nie wag nie en moet net keer om te begin koop.  Was nogal Vrydagaand in by Naartjie…. maar ek dink my Nartjiepit sal maar ‘n Ackermans Baby moet wees – daardie goed is pragtig, maar die pryse is belaglik vir items wat net ‘n maand of drie gedra sal word.

So van nostalgie gepraat, ek groet met ‘n ou foto van myself waar ek reg was vir my Vasbyt… die sak is darem ligter gemaak na die foto… Anderdag sit ek een op van my laaste dag in uniform.  Dit was April die jaar 10 jaar wat ek uit die mag is.

Vasbyt

29
Jun
09

Deur die Kruispad

Vir jare al het ek op die horison ‘n kruispad gesien en het ek lankal geweet watter rigting ek sal moet inslaan. Ek het my oog nie op die horison gehou nie en afgedwaal, uitgestel, onnodige tyd vermors en so het te veel dae van my lewe verlore gegaan.  Die laaste paar weke het ek doodstil geraak hier Op die Seepkissie terwyl ek gewerk het aan ‘n mank wa se wiele sodat ek die wa deur die laaste drif kon sleep en toe het ek die kruispad storm geloop.

Die eerste treë op die nuwe pad lê vol klippe en ek dit is maar ‘n gesukkel om spoed op te tel. Ek weet egter as die tolgeld eers betaal is, gaan die wa se wiele begin sing. Verby die eerste struikelblokke sien ek blink dae en ‘n pad wat algaande meer gelyk raak. Ek is darem oopkop genoeg om ook te besef dat daar menige struikrower skuil langs daardie pad en dat ek altyd op my hoede sal moet wees om nie blindelings in enige strikke te trap nie.

Snaaks, toe ek uiteindelik met my wa met die beter wiele voor die wegwyser staan en my besluit beslis aangekondig het, het ek skielik nuwe bloed in my are voel bruis. Dit wys; mense wat my ken sien dit en waar ek voorheen gevra is of ek siek is, word ek nou gevra of ek verlief is. Verlief wees is die laaste ding op my agenda, maar as ek dit so lyk, dan beteken dit een ding – die pad na my ou self is toe nie so lank as wat ek gedink het nie.

So ja, ek is terug en gaan my Seepkissie bietjie afstof en weer ‘n slag saamkuier en saamgesels. Daar is nog baie lapwerk aan die mank wa en dit gaan tyd vat, maar die wiele rol – glad.

05
May
09

Tyd om op te vang

Kyk, ek kuier hopeloos te min hier rond! Ek stap gereeld verby Die Seepkissie en sien hoe die arme ding stof vergader, maar vir omskop sien ek nie kans nie… dit sal wees soos deel van my uitvee die dag as ek tot die stap oorgaan. Dan klik ek maar net die tong en skud die kop en reken ek sal moet tyd maak. Ek het geweet ek gaan besig wees in my nuwe beroep en as ek nou eers begin swot, dan gaan ek maar moet wegbly uit die voetpaadjies van die blogsfeer anders gaan ek myself vasknoop.  Tot dan loer ek maar so nou en dan in…

Ek het gestem. En ek kan nie kla oor die uitslag van die stemmery nie – dit is eintlik beter as wat ek verwag het. Dit kon erger gewees het. Dit was vreedsaam waar ek was en ek het vry en sonder druk van enige soort my stem uitgebring. Ek dink net dat as jy nie ‘n stempeltjie in jou ID boekie het die volgende dag nie, moet jy maar ‘n dag se verlof insit. Die ekonomie se brieke word aangedraai sodat jy kan gaan stem. Van jou medeburgers maak finansiële opofferings sodat jy gemaklik en tydsaam iewers in ‘n ry kan inval om jou stem uit te bring. As jy gekies het om nie te kies nie, dan moet jy maar voorregte soos ‘n pasella afdag inboet. Tog is ek bly dat die stembusse so besig was en dat soveel geregistreerde kiesers wel gaan stem het. As almal nou net wil registreer en volgende keer weer in masssas gaan stem, gaan ons demokrasie en verteenwoordiging wel ‘n behoorlike kans gee.

En toe val ek vir die Idols grap. En ek bring ‘n paar stemme uit. Stupid. SMS so ewe om die outjie te ondersteun en nogal vroeg om darem voorsiening te maak vir ‘n stelsel wat moontlik oorlaai kan raak.  En raai, vyf van my stemme is na die tyd afgelewer.  Op die telefoonlyn kon ons (gelukkig?) nie deurkom nie. En so lees ek hier en daar en oral dat daar nog mense is wat kla dat hulle stemme nie deurgegaan het nie. Nou wonder ek so bietjie stilletjies… ons weet tog almal hoe werk die stemmery… die operateur kry sy stukkie en die kompetisie se organiseerders vat ‘n vet hap en voer hulle sakke uit.  Ek vermoed R1 van die R2 beland in die organiseerders se kissie. Ek wonder nou of Alexander Forbes vir ons kan bevestig hoeveel stemme na die tyd afgelewer is wat nie kon tel vir die kompetisie nie? Voor julle tamaties gooi, ek weet die uitslag kan nie nou verander word nie – water onder die brug is water onder die brug. Ek wil net sien dat my R10 wat ek aan stemme spandeer het wat nie getel het nie omdat die stelsel buite werking was/nie die druk kon hanteer nie/gesaboteur was of wat ookal, dan nie in die kissie van die kompetisiebase eindig nie, maar na ‘n liefdadigheidsorganisasie gaan. Net om te wys daar is nie naarheid nie, kan die nr 1 en nr 2 saam besluit wie die geld moet kry. Volgende jaar sal ek seker weer kyk, maar ek sal maar ‘n tien randjie by die gidshondblikkie gaan ingooi.

Iedergeval, die dag wat ek R900 betaal vir ‘n Springbok replikatrui moet my kop gelees word. Ek gaan die goed probeer verkoop, want dit is wat ek deeltyds doen, maar ek sal sekerlik formeel my enkele suksesse kan aankonding. Weet die klomp wat die trui teen daardie prys versprei dat ons land en ons mense se beursies kwaai gekrimp het? Ek moet erken dat ek deesdae rondkyk om te sien of iets soos Tupperware nie dalk maar die beter opsie is vir ‘n deeltydse inkomste nie. Rugby het laas goed betaal toe die Stormers darem nog bietjie meer as Suutjiestrap was. Wat ‘n teleurstellende seisoen!

Nou ja, ek moet nog weer ‘n paar kwotasies aanmekaarslaan en een en ander regkry vir my vroegoggenduitstappie stad toe. Ek ys as ek dink hoe die parkering môre weer my sak gaan ruk… maar solank die besigheid kom, mag ek seker nie kla nie. Dit gaan maar rof daar buite… maar dit bly lekker…

18
Apr
09

Daar’s klaar gedans….

Nou is dit al die pad skouer aan die wiel en afdraende pad…

Dankie tog. Daar is net een ding wat erger is as ‘n dogter in matriek en dit is ‘n seun in matriek so net voor die matriekafskeid. My ou het gestres oor twintigduisend dinge wat volgens hom verkeerd kon gaan en die stres oorgeplaas na ma toe. Ek was snaarstyf opgewen en aan die einde van die dag was alles heel gaaf. Die meisie was in haar noppies met haar blom en baie tevrede dat die Jaguar (1976) se kleur nogal ingeskakel het by die uitrustings.

Daar is nie afterparty toe gegaan nie. Die man is al rustig aan die slaap. My spiere begin nou eers behoorlik ontknoop.

Ek is bly die skool se afskeid is so vroeg in die jaar oor en verby. Nou kan daar gefokus word op die eksamens wat voorlê en die obesessie oor motors, haarstyle, uitrustings en metgeselle is uit die pad.  

Ek is ‘n baie trotse ma….

dsc08211

 




Sew Pretty Homestyle

Kaapstad, Suid-Afrika

Dis ek die…

Kalender

November 2009
M T W T F S S
« Sep    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  

Argiewe

MY GUNSTELINGE

RSS BB’s Blog

RSS Boendoe

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Die Pienk Zuit

RSS Ding se Dinge

  • An error has occurred; the feed is probably down. Try again later.

RSS Gert Gariep

RSS Karin se Dink en Droomplek

  • Fin September 26, 2009

RSS Kokkewiet

  • ?? Oktober 21, 2009

RSS Wipneus

RSS Woestynsand

RSS Wosonki

RSS Zee

Van Waar…..

SA Top Sites

Statistiek

  • 41,888 Loere
Jo-Ann Schou's Facebook profile

Bookmark

Bookmark and Share